Skouspel van gees, jolyt en briljante atletiek-aksie by Pretoria se A-bond interhoër
Pretoria se A-bond atletiek interhoër, wat Vrydag in die Pilditch stadion in die weste van die stad aangebied is, was oudergewoonte ’n skouspel sonder weerga, met briljante vertonings op die baan en ’n atmosfeer wat nie maklik elders oortref sal word nie.
’n Manjefieke skouspel!
Dít is die enigste manier hoe Vrydag se Pretoria A-bond atletiek interhoër byeenkoms in die Pilditch stadion beskryf kan word.
Na twee jaar waartydens leerlinge van die deelnemende skole hierdie voorreg weens Covid regulasies onneem is, het die nege deelnemende skole aan die Pretoria A-bond byeenkoms behoorlik uitgehang om hul terugkeer na die stadion en die aksie te vier.
Vroegoggend het die busse vol skoliere uit die noorde, ooste en suide van die stad reeds ingestroom om massas ondersteuners in hul skooldrag af te laai. Sommer gou was die paviljoen en graswalle rondom die stadion volgepak met skoliere om ’n kaleidoskoop van kleur te vorm.
Die skole het mekaar probeer oortref tydens die amptelke seremonie waarmee die rasieleiers vol energie en inisiatief by hul mede-leerlinge aangesuit het.
Hierna het die dag se jolyt begin, wat menige skolier waarskynlik tydens die naweek met ’n hees stem gaan laat as resultaat van die uitbundige ondersteuning aan hul atlete-maats.
Die byeenkoms is puik en met groot professionaliteit deur Hoërskool Menlopark aangebied – ’n besondere uitdaging, aangesien daar vir die eerste keer in jare weer so baie toeskouers in die stadion toegelaat is. Saam met Menlopark, die verdedigende kampioen, was daar nog twee skole uit die ooste van die stad, naamlik Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein.
Uit die verre noorde (Hammanskraal) was Prestige College weer op hul pos, terwyl Hoërskool Montana die ander verteenwoordiger uit die noorde is.
Uit die suide van die stad is Centurion verteenwoordig deur Hoërskool Zwartkop en Midstream College.
Die laaste twee deelnemers kom uit die sentrale stadsgebied. Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) en Afrikaans Hoër Meisieskool (AHMP) neem as onafhanklike skole deel aan die byeenkoms.
Op die baan was daar sommer vroegdag al skitterende aksie en, soos atletiek-entoesiaste gewoond geraak het, word hierdie byeenkoms steeds gekenmerk deur van die beste skole-atletiek wat in Suid-Afrika gevind sal word.
- Rekord sal weer teen Saterdag-oggend aanlyn verslag doen oor die volledige uitslae van die dag se aksie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.














