Provinsiale Hunter Field Target skietkampioenskap buite Pretoria aangebied
Na puik vertonings deur plaaslike skuts by die onlangse Hunter Field Target skiet wêreldkampioenskap in Oos-Europa sal die kollig eerskomende naweek verskuif na die buitewyke van Pretoria, waar die Gauteng Ope kampioenskap in Kameeldrift Oos aangebied gaan word.
Hoewel die Suid-Afrikaanse span by die onlangse Hunter Field Target skiet wêreldkampioenskap geen medaljes kon inoes nie, het dié skuts hulself baie goed van hul taak gekwyt.
Vier van die skuts kon daarin slaag om onder die top 10 deelnemers in hul onderskeie afdelings te eindig. Die span is nie net oorheers deur skuts van Pretoria nie, maar die vier top presteerders is almal Pretorianers.
Suid-Afrika se top presteerder was Meegan Janeke, ’n skooldogter van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP). Tydens die finale gradering het sy vierde geëindig in die Junior (o.18) kategorie.
Chanté van der Merwe van Hoërskool Wonderboom het in dieselfde kategorie in die tiende plek geëindig.
Hunter Field Target (HFT) is ‘n presisie-luggeweersport waarin deelnemers ‘n baan deur natuurlike terrein navigeer en staal-teikens op wisselende afstande en hoeke aanpak.
Teikens val slegs om wanneer dit binne ‘n klein sogenaamde “kill zone” getref word, wat akkuraatheid eerder as krag beloon. Skuts kompeteer vanuit verskeie posisies. Dit sluit in staande, knielend en die lê-posisie (plat op die maag), wat elke skoot ‘n toets van konsekwentheid en beheer maak.

Foto: Verskaf
Anders as talle hoë-impak skietsportsoorte, plaas HFT vaardigheid bo fisieke krag, wat dit ’n toeganklike en bevredigende sport maak vir skuts van alle ouderdomme.
Die ander twee top presteerders in die Suid-Afrikaanse span was Anette Janeke (negende in die dames-kategorie) en Carel Coetzee, wat in die veterane-kategorie ook negende geëindig het.
– Plaaslike Hunter Field Target skuts se aandag verskuif eerskomende naweek na die buitewyke van Pretoria, waar die Gauteng Ope kampioenskap deur die Gauteng Hunter Field Target Vereniging aangebied gaan word.
Die kampioenskap vind plaas oor twee dae op Saterdag 29 en Sondag 30 Augustus by die Sandonia Gholfklub in Kameeldrift-Oos. Die aksie sal daagliks om 08:30 begin.
– Die nasionale kampioenskap sal volg op 4 Oktober vanjaar en dit word by die Pabala Private Nature Reserve naby Humandorp in die Oos-Kaap aangied. Die Protea-span vir die 2027 seisoen sal na afloop van dié kampioenskap aangewys word.
Belangstellendes wat meer oor die sport of die kampioenskap wil weet kan met die vereniging per epos skakel by [email protected]
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
