Local sportSchool sportSport

Hoërskool Eldoraigne stel nuwe rugbydirekteur aan

Die bestuur van Hoërskool Eldoraigne glo die aanstelling van hul nuwe Direkteur van Rugby, wat ’n bewese rekord het in die bou van stelsels en ontwikkeling van spelers, is die regte skuif op die regte tyd wat dié skool se enorme potensiaal op die rugbyveld sal baat.

Ná ’n uitdagende seisoen op die rugbyveld het die bestuur van Hoërskool Eldoraigne besluit om ’n nuwe Direkteur van Rugby aan te stel om hul rugbyprogram in die toekoms te lei.

Die keuse was uiteindelik die voormalige Blitsbok, Jaco van Schalkwyk, wat ook as losskakel van die Leeus en die EP Kings naam gemaak het in sy speeldae.  

Eldoraigne beskou Van Schalkwyk as ’n ervare rugbyprogram-bouer en volgens die skool se bestuur is sy aanstelling ’n strategiese besluit waarmee ’n duidelike koers vir die volgende fase van Eldo-rugby ingeslaan gaan word.

Van Schalkwyk bring ’n seldsame kombinasie van elite-spelerervaring, meer as 12 jaar se rugbyprogram leierskap, eerstespan afrigting en bewese speler-ontwikkeling na Eldoraigne. 

Sy professionele loopbaan as speler het by die Westelike Provinsie begin, waarna hy ’n draai by die Cheetahs gemaak het voor hy drie seisoene vir die Lions uitgedraf het en uiteindelik ’n verdere drie seisoene by die EP Kings deurgebring het. Sy loopbaan in die vyftienman kode is daarna onderbreek weens sy betrokkenheid by die SA sewesrugby span, waarna hy weer vyftienman rugby in Italië en Frankryk gespeel het.

Na sy speeldae het Van Schalkwyk sy ervaring as speler omskep in ’n indrukwekkende loopbaan as afrigter en ontwikkelaar van skolerugby. As Direkteur van Rugby by Hoër Volkskool Graaff-Reinet sedert 2019 het hy ’n program help vestig wat ’n gemiddelde jaarlikse wenpersentasie van ongeveer 80% gehandhaaf het.  

Sy program is nie noodwendig telbord gedrewe nie, maar sy wenpersentasie as afrigter en rugbydirekteur by ’n skool uit die Karoo spreek vanself oor die sukses wat sy aanslag uiteindelik ook in dié verband oplewer. Hy het ses spelers uit Hoër Volkskool Graaff-Reinet tot Grant Khomo- en Cravenweekvlak ontwikkel, noemenswaardige oorwinnings teen groter rugbyskole behaal en dit alles binne ’n skoolomgewing met ’n relatief klein poel van ongeveer 150 seuns vermag.  

Jaco van Schalkwyk het tydens sy spelersloopbaan onder andere SuperRugby vir di eLions gespeel.
Foto: Lee Warren

As stigter van die Future Kings Rugby Development program het hy meer as 1000 jong rugbyspelers bereik en beïnvloed. Dit is juis hierdie vermoë om talent raak te sien, spelers én afrigters te ontwikkel en ’n kultuur van uitnemendheid, dissipline en aanspreeklikheid te bou, wat Van Schalkwyk volgens Eldoraigne se bestuur die regte keuse vir dié skool maak.

“Ons het nie bloot na ’n afrigter vir ons eerstespan gesoek nie. Ons het gesoek na iemand wat ’n rugbyprogram kan bou wat met die skool se waardegedrewe benadering belyn,” het ’n opgewonde Beheerliggaamvoorsitter, Pieter Fourie, oor die aanstelling gesê.

Ook Eldoraigne se hoof, Retief Smith, glo hulle het raakgevat om Van Schalkwyk aan te stel om die skool se rugbyprogram die nodige inspuiting te gee wat groei en sukses in die toekoms sal oplewer.

“Jaco verstaan hoëprestasie-rugby, want hy het dit self beleef. Hy verstaan egter ook Eldoraigne se sterk gemeenskapsfokus. Sukses binne Hoërskool Eldoraigne se konteks gaan nie gekoop of oornag geskep word nie. Dit moet doelgerig gebou word. Sy rekord wys dat hy juis dít kan doen,” het Smith in ’n verklaring opgemerk.

Die skool se bestuur het dit ook duidelik gemaak dat Van Schalkwyk se mandaat insluit die ontwikkeling van spelers, ondersteuning van afrigters, versterking van strukture, bou van kultuur en skepping van ’n rugbyprogram wat oor tyd volhoubaar kan presteer.

Van Schalkwyk en sy vrou, Janine, sal op 1 Oktober hul nuwe loopbane by Hoërskool Eldoraigne begin.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button