Local newsNews

Duisende vroue geïnspireer tydens konferensie

Motiveringspreker woeker met inspirerende woorde.

Die inspirerende woorde van Gretha Wiid, ‘n bekroonde motiveringspreker en huwelikskenner, het meer as sewe duisend vroue by die jaarlikse Worthy Women Conference vroeër in Oktober beïnvloed.

Hierdie samekoms by die NG Moreleta Kerk in Pretoria-Oos, het geestelike herlewing by menige toehoorder gebring.

Janis Ellis, wat saam met Wiid die suksesvolle konferensie georganiseer het, het gesê dat die aantal mense wat dit elke jaar bywoon, hulle verwagtinge bly oortref. Dit impliseer ook dat daar ‘n behoefte by vroue is om geestelik gestimuleer en vervul te word. Die konferensie het op ’n emosionele noot begin met Wiid wat oor die lang pad sedert die eerste WWC-byeenkoms gereflekteer het.

’n Tranerige Wiid het die gehoor bedank vir hul ondersteuning oor die afgelope jare en ook alle eer aan die Hemelse Vader gegee vir die voorspoed wat Hy deur die dag gebied het.

Wiid het voortgegaan om die ernstige sake van ’n vrou se hart aan te spreek. Sy het onderwerpe van vrou-wees, huwelike, verhoudings en geloof getakel.

Ellis het gesê dat Wiid die onderwerpe eerlik en reguit bespreek het. “Alhoewel Wiid in die verlede as ’n kontroversiële spreker gesien is, aanvaar meeste mense haar op die man af styl,” het hy gesê.

’n Spesiale oomblik is ook gegun aan Jacques Schoeman van Pretoria wat sy meisie, Sheree Mostert, verras het deur haar, voor die duisende toeskouers, te vra om met hom te trou. Die bekende sangeres Riana Nel het haar treffer, Dans, gesing om die romantiese oomblik meer spesiaal te maak.

Die byeenkoms het nie geëindig sonder dat daar aan die gemeenskap uitgereik is nie. Geld is ingesamel om aan die mense wat minder bevoorreg is, te skenk.

Ander bekendes, soos Juanita du Plessis, het ook die geleentheid bygewoon terwyl Groot FM se omroeper, Hykie Berg, buite die kerk uitgesaai het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button