CrimeLocal newsNews

Kameras sorg vir afname in misdaad

'n Nuwe identifiseringstelsel sorg vir groot misdaad-verligting in die ooste van Pretoria.

Die nommerplaat identifiseringskameras wat strategies geplaas is in Garsfontein en Constantiapark het die afgelope jaar beslis ’n impak gemaak om misdaad in die woonbuurt te verminder.

Volgens statistiek het die kamerastelsel bykans 2,4 miljoen motors op kamera vasgevang en ’n gemiddeld van 45 verdagte voertuie per maand opgemerk wat gevolglik aan die Suid-Afrikaanse polisiediens deurgegee is.

“Volgens die statistiek het die kamerastelsel gesorg dat heelwat misdadigers vinnig geïdentifiseer kon word en so is moontlike misdadige bedrywighede in die buurt gefnuik,” het raadslid, Nick Pascoe aan Rekord gesê. “Die stelsel is ’n alliansie tussen die inwoners, wat betaal het vir die stelsel, sowel as privaat sekuriteitsmaatskappye en die polisie. Samewerking is die sleutel tot volgehoue misdaadbekamping in Garsfontein.”

’n Inwoner van Constantiapark, Stella Kleb, waar dieselfde stelsel geïmplimenteer is, beaam Pascoe se positiewe terugvoer.

“Ons is almal gekoppel aan die nasionale databasis van die polisie. Sou ’n verdagte motor, hetsy gesteel of gemerk vanweë betrokkenheid by ander misdaadgevalle in die area inbeweeg, word dit dadelik deur die kameras geïdentifiseer. So het ons midaad in ons area verminder. Ons maak steeds gebruik van inwoner patrollies. Ons mense op die pad word ook dopgehou deur die kameras.

Inwoners het bygedra tot die aankoop van radios vir die polisie en privaat sekuriteitsmaatskappye se beamptes wat in ons area werk. Ons is konstant in verbinding.”

Pascoe het ’n beroep gedoen op inwoners om selfs meer betrokke te raak. “Vanweë die ligging van Garsfontein en Constantiapark, is die misdaadpotensiaal baie hoog omdat daar maklik toegang is tot ontsnappingsroetes vir kriminele. Deur meer inwoners te kry om saam te werk, kan ons deur die stelsel nog meer verdagte persone en motors identifiseer om ons gesinne veilig te hou,” het hy gemaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button