Local newsMunicipalNews

Foutiewe straatligte laat Moot inwoners in donker

Die gebrek aan straatligte in die Moot het inwoners die herrie in.

Wit kneukels en hoë bloeddruk is aan die orde van die dag in die Moot omdat inwoners in die duister gelaat word weens foutiewe straatligte.

Foutiewe straatligte is al 11 keer op ’n slag aan die Tshwane metro gerapporteer, maar steeds word die probleem glo net geïgnoreer.

In samewerking met verskeie inwoners en Adriana Randall, raadslid van Wyk 52, is ’n lys van foutiewe straatligte en die hoeveelheid kere wat dit gerapporteer is, saamgestel en aan die metro oorhandig vir aandag.

Randall het gesê dat die gemeenskapspatrollie elke keer disfunksionele straatligte sal rapporteer in die hoop om verandering mee te bring.

“Dit is net jammer dat ons geen ondersteuning van die metro oor die straatligte ontvang nie ten spyte daarvan dat ons die ligte deeglik monitor en alle nodige inligting aan die metro deurgee.”

Sy het gesê die ooreenkoms om straatligte binne 48uur te herstel, is so te sê iets van die verlede, maar dit moet so gou as moontlik aangespreek word sodat die metro hulle diensverskaffing kan verbeter.

Louis Snyman van Môregloed het gesê hy is keelvol vir die straatligte wat aanhoudend af is en dat dit ’n gevaar vir die inwoners skep. “Ons straat is so donker dat ek my buitelig moet aanhou om net ’n bietjie lig te skep. Ek het dit al telkemale aan die metro gerapporteer, maar hulle het nog niks aan die saak gedoen nie.”

Dit is nie net Snyman wat oor die swak dienslewering kla nie, maar ook inwoners van Waverley, Bergtuin en Villieria waar daar ongeveer 16 strate in die duister gelaat word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button