Tien geharde misdadigers het onlangs weer die lang arm van die gereg gevoel toe hulle een na die ander deur die Wonderboompoort-polisie in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms asook huis- en voertuigbreek toerusting.
Adjudant-offisier Alfred Matlou en Sersant Reginald Netile het onlangs ’n beweerde dwelmverbruiker vir die derde keer vanjaar in hegtenis geneem nadat Adjudant-offisier Jacques Oosthuizen die verdagte reeds voorheen vir die besit van dwelms gearresteer het.
Volgens Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, het dié offisiere ’n verdere drie arrestasies in Capital Park uitgevoer toe hulle drie verdagte mans in die omgewing opmerk. “Hulle het ’n verdagte voertuig opgemerk, hulle voorgekeer en die voertuig deursoek, waar hulle huisbraak toerusting in hul besit ontdek het.”
Sy het gesê twee van hierdie verdagtes is reeds vroeër die jaar op heterdaad betrap toe hulle by ’n woning in Neethlingshof wou inbreek. Al drie verdagtes is weer in hegtenis geneem vir die besit van huisbraaktoerusting.
Olivier het gesê weens die paraatheid van Adjudant-offisier Alta Rudolph, Sersant Jaco Breetzke, Konstabel Larissa Laas en Reservis Wilma Kirsten het hulle vier kriminele se planne in die wiele gery. “Twee verdagtes is op die hoek van Flowerstraat en Eerste Laan in hegtenis geneem nadat die offisiere voertuigbreek toerusting by hulle ontdek het en die ander twee is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.”
Sy het gesê een van die verdagtes is reeds by vorige geleenthede vir die besit van dwelms, huisinbraak en die besit van gesteelde items in hegtenis geneem.