CrimeNews

Man red honde ná vergiftiging

Donovan en Drienie Tolmay van Pretoria-Noord het dit reggekry om hul diere te red selfs ná hulle vergiftig is.

Terwyl booswigte in die noorde van Pretoria steeds aanhou om teikens vir huisinbrake uit te soek en troeteldiere te vergiftig, het ’n inwoner van Pretoria-Noord dit reggekry om sy diere te red selfs ná hulle vergiftig is.

Donovan en Drienie Tolmay het gesê sowat drie inbrekers het verlede Woensdag omstreeks 02:00 op hul huis toegeslaan maar dat almal in die huis só vas geslaap het dat hulle nie wakker geword het nie.

“Ek vermoed dat hulle iets in of naby die huis gespuit of gebrand het om ons aan die slaap te hou, want ons het moeilik en met hoofpyne wakker geword,” het Donovan gesê.

Danksy die aanhoudende geblaf van die hond wat in die Tolmay-egpaar se kamer slaap, het hulle tog uiteindelik wakker geword en besef dat daar fout is.

“Ek het my na die voordeur gehaas en gesien hoe een van die inbrekers besig was om ons klanksisteem in die sitkamer uit te ruk. Hy het dadelik gevlug toe hy my gesien het, maar wat my ontstel het, is dat een van die boewe ook in my slapende kinders se kamer was en hul selfone gesteel het.”

Waardevolle visvanggereedskap is ook tydens die inbraak gesteel, maar ondanks dié nare ervaring is Tolmay dankbaar dat sy gesin ongedeerd is en dat hy sy ander honde wat buite geslaap het kon red.

“Ek het so gou as moontlik na die ander honde gaan soek en op hul afgekom waar hulle besig was om aanvalle weens die gif te kry. Ons het dadelik vir hulle Blue Liquid ingegee en hulle het die gif opgebring. Gelukkig het hulle oorleef,” het hy gesê.

Tolmay het gesê dat die booswigte vermoedelik vanuit die veld langsaan sy erf gekom het. “Daar was tekens in groen teen my betonmuur geverf asook op ’n klein stuk plank wat naby aan die voorhek geplaas is. Ek vermoed dat hulle die huis op hierdie manier gemerk het,” het Tolmay vertel.

Nog ’n inwoner van Pretoria-Noord, Trudy Venter, het vertel dat daar oor die afgelope twee weke vyf honde in dieselfde straat waarin sy woon, vergiftig is.

Sy het vertel dat die booswigte verlede Vrydag by die bure oorkant die straat probeer inbreek het en dat nie net die bure s’n nie maar ook haar eie honde vergiftig is om hulle stil te hou.

“Die drie verdagtes het die bure se twee honde vergiftig en het later ook vir ons twee honde, wat aanhoudend geblaf het, gif ingegee.”

Venter het hartseer verduidelik dat hulle een hond dadelik omgekap het, terwyl hulle ander hond ure ná die vergiftiging nog gely het en uitgesit moes word.

“Ons is ongelooflik hartseer, want die honde voel soos jou kinders.”

Sy het verder verduidelik dat sy die polisie gebel het, maar dat die booswigte verdwyn het voordat die polisie by die toneel opgedaag het.

Beide Venter en Tolmay het gemeld dat hulle bekommerd is oor die hoeveelheid vergiftiging wat in hulle omgewing plaasvind.

Tolmay het voorgestel dat honde-eienaars tog vir hul diere Blue Liquid moet kry. “Gebruik ’n inspuiting en spuit dit in die hond se keel af en hou sy bek toe sodat hy dit insluk. Dis al wat sal keer dat die diere ná vergiftiging nie vrek nie,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button