Vier vermeende inbrekers op heterdaad betrap
Vier verdagtes is verlede Vrydag in die dak van ’n sake-onderneming in Gezina vasgetrek nadat lede van die Moot-polisie op ’n noodalarm gereageer het. Volgens Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van Moot-polisie, het die verdagtes omstreeks 03:00 by die besigheid ingebreek en in die dak weggekruip toe die polisie die perseel deursoek het. Die verdagtes, tussen …

Vier verdagtes is verlede Vrydag in die dak van ’n sake-onderneming in Gezina vasgetrek nadat lede van die Moot-polisie op ’n noodalarm gereageer het.
Volgens Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van Moot-polisie, het die verdagtes omstreeks 03:00 by die besigheid ingebreek en in die dak weggekruip toe die polisie die perseel deursoek het.
Die verdagtes, tussen die ouderdom van 20 jaar en 36 jaar, is vir huisbraak en diefstal gearresteer asook vir die besit van huisbraakgereedskap.
Jerling het gesê lasbriewe is juis vir twee van die verdagtes uitgereik wat gesoek word, onder andere vir betrokkenheid by twee huisrowe in Bronkhorspruit en twee huisbrake in Sunnyside en in verbinding met ’n rooftog wat in die Sentraal-omgewing plaasgevind het.“
Die vyf beamptes wat die arrestasie uitgevoer het, word bedank vir hulle harde werk,” het Jerling gesê. Kort op die hakke van dié sukses vier die stasie ook die aanstelling van hul nuwe Sektor 3 Bestuurder, Adjudant-offisier Anton Breedt. Breedt het in 1988 by die polisie aangesluit en nadat hy sy opleiding voltooi het, is hy na die destydse Spesiale Wageenheid uitgeplaas en later na die Blitspatrollie.
“Hy is in 1997 na die kommunikasiedienste verplaas waar hy tien jaar diens verrig het. In 2007 is hy na die Moot-polisie verplaas waar hy onder andere misdaadvoorkomingdienste en dienste in die gemeenskapdienssentrum verrig het en klagtes hanteer het.” Sy het gesê die stasie wens hom alle sukses toe in sy nuwe pos.
Navrae: Adjudant-offisier Anton Breedt by 082-822-6428 of 012-353-5441 vir enige navrae rondom Sektor 3.