CrimeNews

Vreemde voorwerpe dalk aan inbrake gekoppel

Inwoners word gemaan om paraat te wees op merkers wat dalk as tekens kan dien om by huise in te breek.

Vreemde voorwerpe voor ’n huis of op ’n heining kan moontlik beteken dat die woning vir diefstal geteiken word.

’n Inwoner van Rietfontein het ’n klein groen Monopoly huisie teen sy palisadeheining ontdek nadat boewe by die perseel ingebreek, maar slegs met ’n sak vol studiemateriaal weggekom het.

Luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisiestasie, het gesê hoewel die Monopoly huisie moontlik met dié inbraak gekoppel kan word, kan sy dit nie bevestig nie.

“Ons het min klagtes oor verskillende merkers in ons polisiëringsarea gehad, maar inwoners moet enigiets wat verdag lyk, verwyder en paraat bly,” het Jerling gesê.

Sy het gesê inwoners moet altyd op die uitkyk wees vir vreemde voorwerpse soos klippe wat op mekaar gestapel is, bottels wat in ’n rigting van ’n huis wys of selfs papiere wat in hekke gedruk word. Enigiets wat vreemd voorkom, moet verwyder word, het Jerling gemaan.

Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van die Wonderboompoort-polisie, het gesê dat hulle geen klagtes oor merkers in hulle polisiëringsarea ontvang het nie, maar maan inwoners om steeds paraat te bly.

“Dis belangrik dat inwoners altyd bedag moet wees op tekens, verdagte persone of gebeure. Verander ook die roetes wat gery word sodat gewoontes nie gemonitor kan word nie,” het Olivier gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button