Verkeersprobleem in Pretoria-Noord bereik kookpunt
Die druk verkeer in die noorde van Pretoria, wat grootliks veroorsaak word deur die konstruksiewerk van die A Re Yeng busdienste. laat honderde motoriste mismoedig.

Die verkeersprobleem in die noorde van Pretoria het onlangs ‘n kookpunt bereik.
Inwoners is moedeloos en opsoek na oplossings terwyl die munisipaliteit verseker dat hulle voorsiening sal maak om die verkeersdruk te verlig.
Die druk verkeer in die noorde van Pretoria, wat grootliks veroorsaak word deur die konstruksiewerk van die A Re Yeng busdienste vanaf Van Rensburgstraat in die Moot deur Die Poort tot en met Lavenderweg, laat honderde motoriste mismoedig.
Volgens raadslid Ben Wannenburg, het die konstruksiewerk deur die Poort drastiese negatiewe effekte op Rachel de Beer- en Jan van Riebeeckstraat in Pretoria-Noord.
Hy het vertel dat die genoemde strate ‘n probleem was voor die konstruksiewerk begin het en dat dit nou tot so ‘n mate vererger het dat chaos aan die orde van die dag is.
“Rachel de Beer- en Jan van Riebeeckstraat is die twee strate in Pretoria wat die stadigste beweeg.”
Wannenburg het verduidelik dat volgens impakstudies wat die afgelope maand gedoen is, is die gemiddelde wagtyd in dié twee strate ongeveer 300 sekondes.
“Die gewone wagperiode om in verkeer te beweeg moet tussen 12 en 78 sekondes wees. Dit is absoluut onaanvaarbaar om 300 sekondes te wag om te beweeg in verkeer.”
Wannenburg het bygevoeg dat konstruksiewerk aan die A Re Yeng busdiensprojek ongelooflik baie druk op motoriste plaas en dat die munisipaliteit alternatiewe sal moet vind.
“Daar moet alternatiewe planne gemaak word soos byvoorbeeld ekstra bane wat bygevoeg word, of selfs puntsmanne by die verskeie verkeersligte.”
Volgens Selby Moeketsi Bokaba, uitvoerende direkteur van kommunikasie, sal puntsmanne eersdaags by verskeie punte diens doen.
“Motoriste kan vanaf 18 Oktober verwag dat die stad se metropolisie en puntsmanne, wat deur Outsurance aangestel is, op 45 punte by konstruksiewerke geallokeer sal word om die verkeer tussen 6:30 en 8:00 en ook 15:00 en 18:30 te reguleer.”
Bokaba het ook vertel dat motoriste verdere konstruksie kan verwag vanaf Junie 2015.
“Konstruksie op die lyn 1A vanaf Lavenderweg na die gebied gemerk vir die beplande Rainbow Junction interfasiliteit, sal voortduur vanaf Junie 2015.”
Wanneburg het vertel dat hy tans daagliks gebombardeer word deur inwoners wat met hulle hande in hul hare sit oor die ongerief.
’n Inwoner van Ninapark, Jan-Viljoen Coetzee,het vertel hoe erg die situasie is en bygevoeg dat die verkeer nie konsekwent is, sodat mens vooraf kan beplan nie.
“Soms is die verkeer erger as ander tye en die gevolg is dat my kinders amper altyd laat is vir skool en ek vir werk.”
Volgens Natashia Slabbert, wat elke dag van die N4 hoofweg gebruik maak, het die verkeer op dié snelweg, veral in die omgewing van die Doornpoort tolhek, onlangs drasties toegeneem.
“Ek vermoed dit is as gevolg van die padwerke deur Die Poort en in Zambezi Rylaan omgewing wat motoriste noop om van alternatiewe roetes soos die N4 snelweg gebruik te maak. Gevolglik is verkeer op dié snelweg tans ’n nagmerrie.”
Die verkeer op die N1 snelweg het ook die afgelope maand kookpunt bereik as gevolg van konstruksiewerk tussen die Pumulazi Plaza en die Zambesiwisselaar wat in September begin het.
Die verbeteringe op dié snelweg, wat meer as 8km strek en deur meer as 80 000 motoriste per dag gebruik word, sal teen September 2014 ten volle voltooi wees.