
Die rommelprobleem in Centurion duur steeds voort met vullisverwyderingsdienste wat nie net traag is nie, maar glo ook ondoeltreffend is.
Inwoners van Centurion het opgelet dat hulle vullis nie op die geskeduleerde tye verwyder word nie.
Phillip Gohl van Heuweloord het gesê dat die vullis op Vrydae verwyder moet word, maar die dienste het eers ‘n week later opgedaag.
“Die dromme staan buitekant in die strate en stink verskriklik. Ons het ook ‘n probleem met rondloperhonde. Hulle grou in die swartsakke op die grond wat veroorsaak dat die vullis rondlê,” het Gohl gesê.
Volgens wyksraadslid Casper McDonald is die krisis by die stortingsterrein in Rooihuiskraal nog steeds ’n kopseer.
Verlede maand het Rekord berig oor die chaos wat by dié stortingsterrein plaasgevind het. Volgens amptenare was dit weens ‘n tekort aan trokke om die vullis te verwyder en daarom is die terrein gesluit om te verhoed dat dit oorvol word.
Intussen het Centurion ontaard in een groot stortingterrein met mense wat onwettig hul vullis in oop velde stort.
Inwoners van die landgoed in Amberfield het hul frustrasies rakende onwettige rommelstorting in ’n oop veld aan die punt van Lenchenlaan aan Rekord uitgespreek.
“Nadat ons talle oproepe en navrae aan Tshwane-metro gerig het, blyk dit dat daar geen poging aangewend word om die gebied skoon te maak nie,” het Delia Agenbag van Amberfield Manor, wat aan die veld grens, gesê.
“Een van die amptenare het wel aan ons erken dat daar nie toerusting is vir die departemente om enige skoonmaakoperasies te loods nie,” het Agenbag bygevoeg.
“Hierdie is egter nie ’n probleem wat onlangs opgeduik het nie, maar duur al vir ‘n geruime tyd. Dit het wel in die afgelope jaar vererger,” het Anneline Coertze, bestuurder van Amberfield Glen Landgoed gesê.
Die eienaars van hierdie landgoed het hul eie metodes ontwikkel om die probleem rakende die vullis op te los. Dit kos egter geld en hulle is ontevrede daarmee aangesien hulle belasting betaal en dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is.
Die vullisstorting hou vir hulle ’n sekuriteitsrisiko in, veral vir die eenhede in die landgoed wat teenaan die veld is.
Die grond behoort glo aan ’n bank wat wel ’n poging aangewend het om ’n heining by die ingang van die veld op te rig. Hierdie heining het egter nie lank gebly nie – ’n groot gedeelte daarvan is gesteel.
Verder ondervind die aangrensende eenhede onaangename reuke van die vullis in die veld. “Die reuk van vuil doeke en ander gemors dring deur die huise, veral as die wind waai. Dit lok ook muskiete en ander ongewenste insekte,” het Agenbag benadruk.
Dit is duidelik dat hierdie probleem nie net onooglik is nie, maar dat dit ook gesondheidsrisiko’s inhou.
Volgens Coertze is ’n verdere probleem die plastieksakke wat teen die elektriese heinings vaswaai en die alarms aktiveer. “Dit kos ons geld elke keer as die sekuriteitsfirma reageer op ’n vals alarm,” het sy gesê.
Elektriese drade word ook geknip en sekuriteitskameras word gesteel. Die koste daaraan verbonde is ongeveer R100 000.
McDonald is van mening dat die vullisstortingsprobleem in Centurion drasties toegeneem het in die afgelope jaar. “Ek is van mening dat die tekort aan stortingsterreine ’n rol hierin speel,” het McDonald aan Rekord erken.
Verder is hy ook bekommerd oor die stand van sake by die munisipaliteit. Volgens hom het die metro nie die toerusting, bemanning of finansies om die toenemende vullisprobleem op te los nie.
“Dit is te duur vir die vullisverwyderingsmaatskappy om die vullis by stortingsterreine in Atteridgeville of ander plekke af te laai, daarom soek hulle alternatiewe en vinnige oplossings en stort dit eenvoudig in ’n oop veld,” het McDonald gesê. “Nou raak enige oop erf ’n stortingsterrein.”
Daar word verder verwys na die probleem in Irene waaroor Rekord berig het. Inwoners is bekommerd dat die veld oorkant die landgoed op die M57 ook gaan ontaard in ’n stortingsterrein of ’n plek waar hawelose mense hulself gaan vestig.
McDonald het ook verwys na die probleem rondom wetstoepassing en die toepassing van bywette. “Die metro het slegs ongeveer vyf beamptes om ’n gebied soos Centurion te patrolleer om diegene wat onwettig stort vas te trek,” het hy gesê.
Volgens ’n opname wat Rekord by die metropolisie se kantore in Lyttelton uitgevoer het, is daar duidelik nie genoeg voertuie om selfs net twee beamptes te taak nie.
McDonald se voorstel is dat Tshwane ’n volhoubare en praktiese metode ondersoek en implimenteer om herwinning doeltreffend te maak.