Local newsMunicipalNews

Grafte van volkshelde en leiers skoongemaak

Besorgde Pretorianers het grafte in die helde akker van Pretoria se begraafplaas met seep en borsels bygedam

Twintig grafte van Afrikaanse volkshelde, leiers in die politieke geskiedenis, digters en skrywers in die helde akker van Pretoria se begraafplaas is Saterdag met seep en borsels bygedam en skoongemaak.

Sowat 150 besorgde Pretorianers het Saterdagoggend vroeg reeds by die begraafplaas opgedaag waar hulle deur Quentin Meyer, sameroeper van die skoonmaak aksie, verwelkom is.

Van die jonger mense het met graaf en pikke aan die werk gespring om die gras en onkruid om die grafte skoon te maak.

Te oordeel aan die ywer waarmee die liefdestaak verrig is, is dit duidelik dat die inisiatief van Meyer ‘n vlam van hernieude belangstelling in die geskiedenis wakker gemaak het. Sedert voor verlede maand, toe die standbeeld van Andries Pretorius, na wie Pretoria vernoem is, voor die Pretoria-stadsaal skoongemaak is, het borge uit hul eie vorendag gekom en hul steun aan die projek toegesê. Afriforum het vir die skoonmakers T- hemde en skoonmaakmiddels geborg.

Rudie Rousseau, wat hom daarop toelê om al die konsentrasiekampe te videografeer, was die hoofspreker by die geleentheid en het op die belang van vergete konsentrasiekamp begraafplase gewys. Meyer het gesê dat die belang van die skoonmaak aksies daarop gerig is om jong mense weer van die belang van die Afrikaner se geskiedenis bewus te maak .

“Op skoolvak word ons eie geskiedenis gruwelik verwaarloos en geïgnoreer. Kinders van vandag weet nie meer wat die herkoms van hul kultuurgeskiedenis is en watter impak die opofferinge van ons voorvaders op hul vorming en die ontwikkeling van ons land gehad het nie. Die teenwoordigheid van ons jonger mense by die grafte wat ons vandag skoonmaak, plant die saadjie om vrae omtrent ons geskiedenis te vra,” het hy gesê.

Die grafte wat skoongemaak is, is dié van Pres. Paul Kruger en sy vrou Gezina; Tjaart Andries Kruger, seun van Paul Kruger; Elsie Eloff Kruger, kleindogter van Paul Kruger; Jacobus Hendrik Pierneef, Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar; Genl. Hendrik Schoeman; Jopie Fourie, Kaapse rebel wat as martelaar vir boeresaak gesterf het; Eugene Marais, baanbreker in Afrikaanse literatuur en sy vrou Lettie; dr. Andries Treurnicht, redakteur, kabinetminister en leier van die Konserwatiewe Party; dr. Hendrik Verwoerd, sleutelfiguur in in die apartheidstelsel; Andries Wilhelm Pretorius, sleutelfiguur in die slag van Bloedrivier en na wie Pretoria vernoem is; Hendrik Potgieter, leier van die tweede groot trekgeselskap uit die Kaapkolonie; Hans Strijdom, voormalige premier van die Unie van Suid-Afrika, en sy vrou Susan; dr. EG Jansen, kultuurleier, skrywer, speaker van die Volksraad en voorlaaste Goewerneur-Generaal van die Unie van

Suid-Afrika; Thomas Burger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek; Jan F Celliers en Susana Jacoba Colliers, Afrikaanse digter; pres. Gerrit Jacobus van Niekerk; die eerste en enigste president van die Republiek van Stellaland wat 1883 formeel geproklameer is; pres. Willem Cornelis Janse van Rensburg, die tweede president van die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek en Kmdt. Henning Petrus Pretorius, waarnemende Kommandant-Generaal in die plek van Genl Piet Joubert.

Die skoonmaak aksie van Meyer het egter veel meer gedoen as net die skoonmaak van grafstene. Dit het ook die aandag gevestig op die algehele verwaarlosing van grafte. In die skaduwee van die lang dennebome en sipresse roep die gebreekte leiklip en graniet- kopstene na die sorg van nasate, nasate wat al vergeet het dat hul voorouers eens in liefde daar begrawe is. Sommige kopstene met vreemde vanne vertel ‘n verhaal van die verganklikheid van ‘n nageslag wat ook al op eie bodem uitgesterf het. Ander rye kruise vertel ook ‘n droewige verhaal van die futiliteit van oorloë en soldate van ‘n Britse Empire wat onverwags op vreemde bodem ver van geliefdes gesterf het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button