Waterlek wek groot kommer
‘n Waterlek in Centurion wek groot kommer by inwoners weens die kwesbaarheid van die dolomietryke grond waarop hierdie woonbuurt gebou is. ‘n Inwoner van Lyttelton Manor, Philip Rousseau, is baie besorg oor die lekkende waterpyp wat hy reeds drie maande gelede aan die Tshwane-metro gerapporteer het omdat kenners glo dat ondergrondse lekkende waterpype sinkgate kan …
‘n Waterlek in Centurion wek groot kommer by inwoners weens die kwesbaarheid van die dolomietryke grond waarop hierdie woonbuurt gebou is.
‘n Inwoner van Lyttelton Manor, Philip Rousseau, is baie besorg oor die lekkende waterpyp wat hy reeds drie maande gelede aan die Tshwane-metro gerapporteer het omdat kenners glo dat ondergrondse lekkende waterpype sinkgate kan veroorsaak.
“As ‘n mens die geskiedenis van sinkgate in Lyttelton in ag neem, is die grootste bekommernis dat niks omtrent die saak gedoen word nie,” het Rousseau aan Rekord gesê.
Volgens hom het inspekteurs van die metro die probleem drie maande gelede ondersoek en bevestig dat ‘n ondergrondse waterpyp in Monumentlaan lek.
Hierdie straat is slegs ‘n paar strate weg van die twee sinkgate in Pretoriusstraat.
Sedertdien het niemand weer aandag aan die saak gegee nie, ten spyte van Rousseau se pogings om dit by Tshwane se kliënte-dienssentrums te rapporteer. “Ek probeer om te verhoed dat nog ‘n sinkgat vorm, maar dit is tevergeefs,” het hy gesê.
Weens die erns van die saak, het ander partye ook betrokke geraak om dit aan Tshwane-metro voor te lê. AfriForum het in ‘n brief aan die metro gevra dat daar meer aandag gegee sal word aan die sinkgatkrisis in Centurion. Die brief het gevolg nadat daar nog twee sinkgate in Centurion in die afgelope maand ontstaan het.
“Die metro behoort ‘n taakspan saam te stel wat onmiddellik waterlekkasies in die gebied kan herstel om te verseker dat die dolomiet onder die grond nie verder verbrokkel en meer sinkgate veroorsaak nie,” het Ian Cameron, organiseerder vir AfriForum, gesê.
Hy het bygevoeg dat die aangestelde taakspan astronomiese bedrae geld kan spaar wat op die oomblik uit belastinginkomste gedelg sal moet word indien hulle dadelik van die gevaar werk maak.
Die sinkgate het nie net groot finansiële implikasies nie, maar is ook ‘n veiligheids-risiko vir mense wat in Centurion woon en werk.
Skoolkinders van Laerskool Louis Leipoldt, waar die onlangse sinkgat ontstaan het, voel onveilig by hul eie skool.
Dié gat is in Pretoriusstraat, wat swaar verkeer dra veral tydens spitstye in die oggende en in die middae.
“Ons voel baie onveilig met dié sinkgat naby ons skool. Dis baie gevaarlik, omdat dit groter kan word,” het Danica Visser, ‘n leerling by Laerskool Louis Leipoldt, gesê.
Volgens Louis van Rooy, ‘n professor in Ingenieurswese en Omgewingsgeologie by die Universiteit van Pretoria, is dolomietrots oplosbaar in water, maar dit neem ‘n gerui-me tyd vir dié tipe rots om op te los.
Holtes het in die dolomiet in Centurion gevorm waarin die bogrond kan inspoel en sinkgate veroorsaak.
“Dit is nie waar dat die dolomiet sommer oornag verbrokkel om ‘n sinkgat te vorm nie, maar eerder dat die rots oor ‘n lang tydperk opgelos het om ‘n holte te vorm waarin die grond kan inspoel as ‘n waterpyp bars of stormwater die grond ondertoe in die holtes inspoel,” het Van Rooy benadruk.
Om verdere sinkgate en versakkings te voorkom, is Van Rooy van mening dat die plaaslike owerhede die nodige voorsorgmaatreëls moet tref en onderhoud op alle stormwater en water- en rioolpype uitvoer om enige lekkasies tot die minimum te beperk.
“Dit lyk vir my na ‘n spanpoging tussen die stadsraad en die inwoners om sinkgate te beperk,” het Van Rooy gesê. “Die stadsraad kan tog nie orals al die verstoppings van aflooppype ondersoek nie. Inwoners moet dus ook op hul eiendomme verantwoordelikheid neem om te kyk vir moontlike nat plekke, druppende waterkrane en na klein krake of versakkings in die gond as aanduidings waar moontlike lekkende waterdienste of grondbeweging voorgekom het,” het Van Rooy aanbeveel.
Hy het egter bygevoeg dat die stadsraad ook so gou as moontlik moet optree wanneer ‘n lekkasie ontstaan.
“Dis nie goeie praktyk om byvoorbeeld die sinkgat in Pretoriusstraat vir sulke lang tye oop te laat staan nie,” het hy afgesluit.