Local newsNews

Geldtekort stop Outa se hof-aksie

E-tol kopsere is nog lank nie verby nie, maar die gemeenskap staan steeds staan in die stryd.

Die gemeenskap se groot baklei teen e-tol het weliswaar tot ‘n einde gekom, maar die miljoene rande wat deur die bondgenootskap teen stedelike tol (Outa)spandeer is om die nuwe betaalstelsel op die Gautengse hoofweë te stop, was die moeite werd, glo die organisasie.

Die tekort aan geld en vrees dat Outa se saak teen die e-tolstelsel op regstegniese gronde in die konstitusionele hof gefnuik kan word, verhinder Outa om met die stryd teen die e-tolstelsel voort te gaan.

Ondanks die feit dat die appèlhof in Bloemfontein Outa se aansoek verwerp het, het Wayne Duvenhage, voorsitter van die bondgenootskap, gesê dat die stryd nie verniet was nie.

“Deur die regsproses het ons mense bewus gemaak van die onregverdigheid van die stelsel. Ons sal nie die saak verder voer nie, want ons het ’n tekort aan fondse. Ons skuld ons regslui nog R1,8 miljoen. Sou ons more nog R3.5 miljoen bykry, sal ons weer hof toe gaan,” het hy gesê.

Die regsproses in die poging om die e-tol geskrap te kry het reeds meer as R13 miljoen in regskostes geëis. Een van die punte waarop Outa gehamer het, was dat daar nie genoegsame publieke deelname in die beplanning van die stelsel was nie.

Die Appèlhof het beslis dat Outa langer as 180 dae geneem het om die saak in die howe aanhangig te maak en dat die regering ruim vyf jaar gelede al by wyse van advertensies in die media die regering se planne aangekondig het.

Duvenhage het daarop gewys dat die appèlhof in sy beslissing op die regstegniese aspekte gekonsentreer het en vermy het om hom uit te spreek oor die wetlikheid al dan nie van die stelsel. Hy het die publiek aangespoor om nie e-tolskyfies te koop nie omdat dit nie onwettig is om nie ’n e-tol skyfie te koop nie.

Duvenhage het die 12 000 lede van die publiek en die 350 sakeondernemings wat Outa ondersteun het, bedank en gesê dat dit nie die einde van Outa is nie. Hy het die donateurs bedank en gesê Outa se rol sal wees om die publiek oor hulle regte bewus te maak en wat mense in sekere omstandighede met e-tol te doen staan.

Vusi Mona, woordvoerder van Sanral, het gesê motoriste wat Gauteng besoek kan binne sewe dae ‘n e-tolrekening betaal sonder om te registreer.

Hy het gesê dat geleentheidsmotoriste op Gauteng se e-tolpaaie ‘n dagpas van Sanral se webtuiste kan koop. Motorfietsryers se dagpasse sal R30 kos, vir sedanmotors sal dit R50 wees, vir swaarvoertuie R125 en vir groot swaarvoertuie R250.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button