Local newsMunicipalNews

Hewige stryd om watervoorsiening duur voort

Drie gesinne in Wolmer moes vir ses dae lank met die munisipaliteit veg om watertoevoer in hul huise, vermoedelik as gevolg van ’n administratiewe fout wat die raad begaan het.

Drie buurgesinne in Wolmer moes vir byna ’n week lank met die Tshwane metro veg vir watertoevoer na hul huise, vermoedelik as gevolg van ’n administratiewe fout deur die munisipaliteit.

Die drie bure, André Meintjies, Barbra Potgieter en Martie Venter, wat in Heropbou en Ontwikkelingsprogram-huise (HOP-huise) woon, het verlede Maandagaand om 17:30 elk ’n kennisgewing in hul posbusse gekry. Die kennisgewings het na bewering daarop gedui dat dié drie huise in Bakenkloofstraat se watertoevoer afgesny is omdat die nuwe watermeters glo nie met die erfnommers ooreengestem het nie.

Rekord het intussen navraag oor dié probleem gedoen en die metro het laat weet dat hulle besig was om ondersoek in te stel om dit op te los. Teen Saterdagmiddag was die watertoevoer in dié huise weer terug, het Potgieter vertel.

“Niemand het gesien wié die krane oopgedraai het nie. Die kennisgewings het gewaarsku dat ons dit nie self mag doen nie,” het sy gesê.

Desnieteenstaande is Meintjies, Potgieter en Venter woedend omdat hulle nie vóór die tyd oor die probleem ingelig is nie. Die drie bure het na bewering ook nooit vir nuwe meters gevra nie en verstaan nie waarom dit in die eerste plek geïnstalleer is nie.

Meintjies het gesê dat die ou meters niks makeer het nie. In April vanjaar het die munisipaliteit egter drie nuwe meters kom installeer, het hy vertel. Hy het ook gemeld dat al sy rekeninge in krediet is en dat hy nie kon verstaan waarom hy verlede week nie water gehad het nie.

“Daar is net skielik vir ons gesê dat ons nie water mag kry nie, dít omdat die metro ’n probleem met ons erfnommers het. Boonop het hul nog die vermetelheid gehad om te sê dat ons vir ’n ouditverslag moes wag om dié probleem reg te stel en dat dit twee weke tot drie maande kon neem voordat ons weer water sou hê. Ons was geskok,” het Meintjies woedend gesê.

Volgens hom verwag die metro verder dat elke inwoner R1 300 vir die nuwe meters moet betaal. “Daarby moet ons nog R300 betaal om dit te registreer ook,” het Meintjies vertel.

Alhoewel die raad besig is om aan die probleem te werk, het Potgieter gesê sy gaan steeds met hulle daaroor kommunikeer. “Ek gaan dit nie net daar laat nie. Die metro se sisteme is heeltemal deurmekaar en dit kan veroorsaak dat baie mense daardeur benadeel word,” het sy gesê.

Volgens Potgieter is daar sowat 200 ander HOP-huise wat deur dieselfde probleem aangeraak kan word. “Die grootste fout lê tussen die metro se water en ligte en behuisingsafdelings. Sover ek verstaan, is ons huise as verskillende erwe by die water en ligte-afdeling geregistreer maar nooit by die behuisingsafdeling nie,” het sy gesê.

Sy bygevoeg dat die eienaars van die ander HOP-huise heel moontlik ook húl watermeters gaan moet registreer. “Ek het nooit geweet dat ons dit moet registreer nie en het aangeneem dat ons nog altyd saam met ons elektrisiteitsrekening ook vir water betaal het,” het Potgieter gesê.

Die raad het teen druktyd nog nie terugvoer in hierdie verband verskaf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button