CrimeLocal newsMunicipalNews

Moot-gemeenskap verklaar oorlog teen onooglike leë huise

Moot verenig teenoor bouvallige leë huise in die Moot omgewing.

Vir die afgelope vyf jaar het die Moot-gemeenskap oorlog teen onooglike leë huise in die omgewing verklaar en sedert hul pro-aktiewe aksies, het dié leë huise en al die gevare wat daarmee gepaard gaan, verminder.

Alhoewel baie van dié huise reeds verkoop, gesloop of herstel is, is daar nogtans bouvallige huise wat verskeie risikos inhou.

“Sedert 2008 het dié tipe huise in die Moot verminder en dit kan moontlik ook toegeskryf word aan bankterugnames wat verkoop word,” het Elmarie Linde, raadslid van Wyk 54 gesê.

Volgens Linde is daar nog verskeie huise wat leeg staan, maar die nuutse klagtes wat sy ontvang het, handel oor ’n leë bouvallige huis in Meyerstraat. Sy het gesê die huis staan sedert 2006 leeg en verskeie inwoners het reeds hul erge bekommernis oor die veiligheid van die omgewing met haar gedeel.

Linde het gesê dat sy ’n poging aangewend het om elke eienaar van ’n private eiendom wat leeg staan, te kontak en hul toekomstige planne vir die wonings te bespreek. “Die eienaar van die Meyerstraat eiendom het my in kennis gestel dat hy beslis van plan is om die perseel op te knap en die woning te restoureer.”

Die eienaar, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dat hy reeds besig is om die huis te herstel en dat hy beoog om dit in 2014 te voltooi. Hy het gesê daar was baie probleme wat hy moes uitklaar om weer volstoom met die herstelwerk voort te gaan.

“Die opsigter wat ek aangestel het om toesig te hou, het kamers onwettig uitverhuur. Ons moes eers die onwettige huurders verwyder voordat ons met die herstelwerk kon voortgaan.

’n Ander struikelblok was die verwydering van die oorhoofse kabel,” het die eienaar gesê.

Hy het gesê daar was ook verskeie persoonlike probleme, maar dat die huis in Meyerstraat hul eerste prioriteit is. Die eienaar het versoek dat die gemeenskap geduldig moet wees terwyl hulle die huis herstel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button