CrimeLocal newsNews

Bejaarde waarsku teen swendel

Posstuk deel van swendel, waarsku inwoner.

In vandag se tye is dit alledaags om SMSe en e-pos te ontvang wat aandui dat jy derduisende rande se pryse gewen het of dat ’n familielid oorsee oorlede is en dat geld uit sy boedel aan jou uitbetaal moet word.

Meeste ontvangers van dié SMSe of e-pos ignoreer dit, maar sommige inwoners is nie so gelukkig nie. Die 83-jarige Cecil Smit van Ons Tuis in Riviera het verlede Vrydag ’n verdagte posstuk ontvang wat staaf dat hy £4,5 miljoen geërf het nadat een van sy familielede in London oorlede is.

Die posstuk is deur Constance Donald, ’n prokureur van Constance Donald & Associates, geteken. “Die brief lees dat ene Joseph Smit en sy gesin op 4 Oktober 2012 in ’n motorongeluk dood is. Die prokureur het kwansuis lewende familie gesoek en glo op my afgekom,” het Smit gesê.

Alhoewel hy sonder ’n skaduwee van twyfel weet dat dié brief ’n swendelstuk is, wil hy inwoners nogtans daaroor waarsku. Volgens Smit is dit kommerwekkend dat dié swendelaars jou naam en adres in die hande kan kry.

“Met die eerste oogopslag lyk dit of dit waar kan wees. Alles is formeel en goed gedokter om soos die werklikheid voor te kom, maar by nadere ondersoek kan mens aflei dat dit ’n klug is,” het hy gesê.

Die brief het verder verduidelik dat indien Smit sy private besonderhede aan donald_constance@yahoo.co.uk toe stuur, sal hulle ongeveer 40% van die boedel aan hom uitbetaal en die res vir die firma hou.

“Ek waarsku alle inwoners, veral bejaardes, om onder geen omstandighede vir hierdie swendelary te val nie. Ons almal kort geld en dit is maklik om so ’n brief uit desperaatheid uit te wil glo. Dit is nie waar nie. Skeur dit op en gooi dit weg,” het Smit gewaarsku.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button