CrimeNews

Agtjarige met mes gedreig

Gr.2-leerling van R20 geroof nadat hy met 'n mes gedreig is.

’n Agtjarige seuntjie van Queenswood se lewe is Dinsdagmiddag in gevaar gestel toe ’n booswig met ’n mes R20 by hom gesteel het.

Marnus Scheepers, ’n graad 2-leerling aan Laerskool Queenswood, was op pad na sy huis wat slegs ongeveer 50m van die skool af is toe die verdagte hom skielik van agteraf vasgegryp het en ’n mes teen sy keel gehou het. Die verdagte het glo ’n swartbroek, geel hemp en ’n balaklava aangehad.

“Hy het my kind se sakke deursoek terwyl hy die mes teen sy keel gehou het. Hy het die R20 in sy sak ontdek, dit gevat en spore gemaak,” het Hannah Scheepers, die ma, gesê.

Volgens Scheepers het haar kind regdeur die nare ervaring baie kalm gebly, maar was na die afloop van die gebeure baie onrustig en omgekrap.

Sy het haar dankbaarheid teenoor Kilnerpark-sekuriteit, Villieria-polisiestasie en traumaberaders uitgespreek vir hulle bystand. “Hulle was so te sê dadelik op die toneel. Ek is baie dankbaar vir hulle betrokkenheid,” het Scheepers gesê.

Back to top button