Kreupel man besteel glo inwoners
'n Bejaarde man besteel glo inwoners nadat hy beloof om stukwerk te voltooi en met hul geld verdwyn sonder om die werk te voltooi.
’n Bejaarde kreupel man wie se voorkoms meeste inwoners van die Moot al geflous het, is glo besig om inwoners van derduisende rande te besteel.
Nie net word inwoners vir wie hy veronderstel is om plaveisel in te sit na bewering ingedoen nie, maar ook die werkers wat hy aanstel om die werk te voltooi.
Adri Meiring, ’n Gezina-inwoner, is Maandag sowat R4 000 kwyt nadat sy die bejaarde man ’n deposito betaal het om vir haar plaveisel neer te lê.
Sy het gesê die bejaarde man, wat homself as John voorgestel het, is glo in sy vroeë 60s. Hy het Maandag by hul huis aangeklop om te hoor of hy vir hulle plaveisel kan lê. “Hy het ons oorspronklik R4 500 gevra en ons het vir hom R4 000 voorgeskiet om die stene en so aan te koop. Ek het baie ongemaklik oor die saak gevoel, maar het hom aan die eenkant so jammer gekry,” het Meiring gesê.
Volgens Meiring het hy drie werkers by hul perseel aangebring om die werk te begin. Hy het aangebied om hulle elk R70 per dag te betaal. Slegs twee het die volgende dag opgedaag, maar John was nêrens te vinde nie.
“Ek voel so dom omdat ek vir die slenter geval het. Dit het net weer eens aan my bewys dat ’n mens niemand meer kan vertrou nie.”
Meiring het alle inwoners gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die bejaarde man wat in die Moot doenig is.
