CrimeLocal newsNews

Man verlam nadat sluipslapers hom uit voertuig pluk ná ongeluk

Dokters het gesê dat man verlam is moontlik omdat sluipslapers hom uit die kar gepluk het nadat hy in'n ernstige motorongeluk betrokke was.

Sluipslapers het slagoffers by die toneel van ’n motorongeluk besteel en vermoedelik ook veroorsaak dat een van die slagoffers verlam is.

Die 32-jarige Wayne Adendorff van Centurion is in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat sluipslapers hom uit die motor waarin hy verongeluk het, gepluk het.

Die ongeluk het onlangs op die Ou Johannesburgpad (R101), naby die SA Munt, plaasgevind.

Die bestuurder van die voertuig en Wayne se broer, Shaun, het verduidelik dat hy na links uitgeswaai het vir ’n aankomende voertuig wat in sy baan die draai gesny het.

Volgens Shaun het die linkerkantse wiel van die pad geloop en toe hy die motor terug op die pad probeer kry, het die wiel die skouer getref. Die voertuig het oor die pad gerol, ’n boom getref, opgeskiet, dwars teen ’n ander boom gebots en in ’n sloot beland.

Shaun en Wayne was saam met twee van hulle vriende, Dawie de Villiers en Pedrie Brits, in die voertuig.

“Ek het eerste na my broer geroep wat terug geantwoord het. Die ander twee het nie geantwoord nie, maar ek het hulle hoor asemhaal,” het Shaun vertel.

Shaun het bewusteloos geword totdat hy uit die motor gepluk is. Hy het eers gemeen dat paramedici hom uit die voertuig probeer help het. “Mense het aan my gepluk totdat ek my veiligheidsgordel losgemaak het. Hulle het my uit die motor getrek en my vasgehou terwyl hulle my broeksakke deursoek het. Ek was die laaste een uit die voertuig,” het Shaun vertel.

Shaun het besef dat hulle sy selfoon gesteel het wat in een van sy broek se sakke was.

Die groep van sowat 15 mense het vining weggehardloop toe voertuie met blouligte vanuit die donker verskyn het. Die polisie van Olievenhoutbosch het op die toneel afgekom.

“Ek het na my broer geloop en gesien dat bloed uit sy mond borrel. Hy het gesê ek moet sy verloofde bel en vir haar sê hy het haar baie lief,” het Shaun emosioneel gesê.

Wayne het vog op sy longe asook ‘n ernstige nekbesering opgedoen. Volgens Shaun het die dokters gesê dat Wayne van die bors af ondertoe verlam is, waarskynlik omdat hy uit die motor gepluk is.

“Wayne het nog gevoel in sy bene gehad toe hy in die motor gesit het, maar nadat die sluipslapers hom uit die kar gepluk het, is hy verlam,” het Shaun gesê.

De Villiers se linkerbeen is onder die knie vergruis en Brits se voortande is uitgeslaan en het ‘n lae rugbesering oorgehou.

Shaun het diep snymerke aan sy vingers opgedoen en ’n brandwond op sy nek van die veiligheidsgordel. Verder het hy kneusplekke op sy bors weens die impak van die ongeluk.

“Die ongeluk speel elke dag in my kop af en ek wonder gereeld waarom dit met my broer gebeur het,” het Shaun gese. Suurstofmasjiene is aan Wayne gekoppel waar hy in die intensiewe sorgeenheid by Unitas-hospitaal lê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button