Local newsMunicipalNews

Verkeer bly kopseer in Noorde

Verkeersprobleme het al wat 'n inwoner in die Noorde is al groot frustrasies besorg, en die beloftes vanaf die munisipaliteit is al waarop staatgemaak kan word.

Die verkeer in die noorde van Pretoria het kookpunt bereik en het die inwoners moedeloos en opsoek na oplossings terwyl die munisipaliteit verseker dat hulle voorsiening sal maak om die verkeersdruk te verlig.

Die druk verkeer in die noorde van Pretoria, wat grootliks veroorsaak word deur die konstruksiewerk van die A Re Yeng-busdienste vanaf Van Rensburgstraat in die Moot deur Die Poort tot en met Lavenderweg, laat honderde motoriste mismoedig.

Volgens raadslid Ben Wannenburg, het die konstruksiewerk deur die Poort drastiese negatiewe effekte op Rachel de Beer- en Jan van Riebeeckstraat in Pretoria-Noord.

Hy het vertel dat die genoemde strate ‘n probleem was voor die konstruksiewerk begin het en dat dit nou tot so ‘n mate vererger het dat chaos aan die orde van die dag is. “Rachel de Beer- en Jan van Riebeeckstraat is die twee strate in Pretoria wat die stadigste beweeg.”

Wannenburg het verduidelik dat volgens impakstudies wat die afgelope maand gedoen is, is die gemiddelde wagtyd in dié twee strate ongeveer 300 sekondes. Hy het bygevoeg dat konstruksiewerk aan die A Re Yeng-busdiensprojek ongelooflik baie druk op motoriste plaas en dat die munisipaliteit ‘n alternatiewe uitweg sal moet vind.

Volgens Selby Moeketsi Bokaba, uitvoerende direkteur van kommunikasie, sal puntsmanne eersdaags by verskeie punte diens doen. “Motoriste kan vanaf 18 Oktober verwag dat die stad se metropolisie en puntsmanne, wat deur Outsurance aangestel is, op 45 punte by konstruksiewerke geallokeer sal word om die verkeer tussen 06:30 en 08:00 en ook 15:00 en 18:30 te reguleer.”

Bokaba het ook vertel dat motoriste verdere konstruksie kan verwag tot Junie 2015. “Konstruksie op die lyn 1A vanaf Lavenderweg na die gebied gemerk vir die beplande Rainbow Junction interfasiliteit, sal voortduur tot Junie 2015.”

Wanneburg het vertel dat hy tans daag-

liks gebombardeer word deur inwoners wat met hulle hande in hul hare sit oor die ongerief.

‘n Inwoner van Ninapark, Jan-Viljoen Coetzee,het vertel hoe erg die situasie is en bygevoeg dat die verkeer nie konsekwent is, sodat mens vooraf kan beplan nie.

Volgens Natashia Slabbert, wat elke dag van die N4-hoofweg gebruik maak, het die verkeer op dié snelweg, veral in die omgewing van die Doornpoort-tolhek, onlangs drasties toegeneem. “Ek vermoed dit is as gevolg van die padwerke deur die Poort en in Sefako Makgatorylaan omgewing wat motoriste noop om van alternatiewe roetes soos die N4-snelweg gebruik te maak. Gevolglik is verkeer op dié snelweg tans ‘n nagmerrie.”

Die verbeteringe op dié snelweg, wat meer as 8km strek en deur meer as 80 000 motoriste per dag gebruik word, sal teen September 2014 ten volle voltooi wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button