Straatligte wat gedurende die dag brand en saans af is, of bloot net buite werking is, is volgens inwoners in die noorde van Pretoria ‘n probleem wat al vir maande lank aanhou.
‘n Inwoner van Theresapark, Annatjie van Wyk, het vertel dat sy foutiewe straatligte in Dorandia en Theresapark maande gelede al aan die Stad Tshwane gerapporteer het.
“Niks het egter daarvan gekom nie en die ligte wat bedags brand, word net meer,” het Van Wyk gesê.
Volgens nog ‘n gemeenskapslid, Ilse Richter, is straatligte wat dag en nag brand sedert Desember 2012 ‘n probleem in Pretoria-Noord. “Ek praat van baie strate met baie ligte soos, onder andere, Impalaleliepad, Weststraat en Berglaan.”
Richter het bygevoeg dat hierdie probleem ‘n oplossing kort siende dat kragbesparing van kardinale belang is. “Met Eskom se huidige situasie waar daar te min krag beskikbaar is, moet die metro mos ingryp en iets doen. Dis tog
in ons almal se belang om krag te bespaar,” het sy gesê.
Volgens raadslid Marnette Sutherland (wyk 98) is die toestand van die straatligte moontlik die gevolg van probleme wat by die raad se elektrisiteitafdeling opgelos moet word. “Daar moet spanne wees wat na die strate toe uitgaan om rekord te hou van die straatligte, maar dit gebeur net nie. Daar is ook moontlik probleme met aankope wat die herstel van stukkende straatligte belemmer,” het Sutherland gesê.
Raadslid Dana Wannenburg (wyk 2) het gesê dat dit wel belangrik is om foutiewe of gebreekte straatligte korrek te rapporteer. “Dis nodig om te weet wat die nommer op die paal van die betrokke lig is en om hierdie besonderhede aan streetlights@tshwane.gov.za te stuur. Verskaf ook die besonderhede van die probleem, die naam van die naaste straathoek vanaf die foutiewe lig, jou kontakbesonderhede en woonadres,” het Wannenburg aangeraai.
