Man skiet glo vrou, kinders voor selfmoord
'n 32-jarige man het Maandag glo sy vervreemde vrou en twee seuntjies in Woodlands doodgeskiet voordat hy selfmoord gepleeg het.

’n Man het Maandag glo sy twee kinders en sy vervreemde vrou in ‘n sekuriteitskompleks in Woodlands doodgeskiet voordat hy selfmoord gepleeg het.
Volgens kaptein Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, is die gesin se lyke omstreeks 13:00 deur die bestuurder van die luukse sekuriteitskompleks, Woodlands Lifestyle Estate, buite die kompleks se klubhuis gevind.
Kaptein Colette Weilbach het gesê ‘n ooggetuie het die 32-jarige vrou en haar twee seuntjies, twee en vier jaar oud, Maandagoggend by die park in die kompleks gesien. Die 32-jarige man het glo kort daarna by die kompleks opgedaag om by sy kinders te kuier.
Weilbach het gesê die man het vermoedelik eers sy gesin en toe homself doodgeskiet.
Volgens Weilbach is ‘n vuurwapen op die toneel gevind.
“Die voorafgaande gebeure wat gelei het tot hierdie tragedie sal deel vorm van die polisie se ondersoek. ‘n Saak van moord asook selfmoord word ondersoek,” het Weilbach gesê.
