Watermeter weg ná herstelwerk gedoen is
Probleme by die Stad Tshwane se Water- en Sanitasieafdeling het daartoe gelei dat 'n Pretoria-Noord inwoner se watermeter foutiewelik herstel is. Dié inwoner is bekommerd dat dit hom baie uit die sak uit gaan jaag.
Na ‘n inwoner van Pretoria-Noord se gesukkel om ‘n fout aan sy watermeter te laat herstel, is nié net die plastiese watermeterhouer verwoes nie, maar die watermeter self is ook skóónveld.
Die inwoner, Herman Mynhardt, het gesê die meter het ‘n waterlek gehad wat herstel moes word omdat die liters en liters vermorste water hom ten duurste gekos het.
Mynhardt het die probleem verlede Dinsdag by die Tshwane metro aangemeld waarna hy ‘n verwysingsnommer ontvang het. Die herstelwerk is die Woensdag gedoen maar Mynhardt kon nie by die huis wees nie omdat hy moes werk. Met sy aankoms by die huis was hy geskok om te sien hoe die watermeter gelyk het.
“‘n Groot gedeelte van die plastiekhouer is oopgesny en net so gelos. Dit lyk onooglik. Boonop is die watermeter ook weg,” het Mynhardt ontsteld gesê.
Hy het die metro Donderdagoggend geskakel om dit aan te meld waarna hy nóg ‘n teleurstelling beleef het. “Toe ek hulle vertel oor die swak herstelwerk wat gedoen is en my meter wat weg is, moes ek hoor dat ek die verkeerde verwysingsnommer gehad het – die nommer was vir slaggate bedoel en nie vir water nie,” het hy gesê.
Verder is hy bekommerd dat die vermiste watermeter hom aan sy beursie gaan ruk. “Wat gaan ek aan die einde van die maand doen? Die watermeterlesing gaan seker weer geskat word,” het Mynhardt gesê.
Die metro het intussen laat weet dat die Water- en Sanitasieafdeling besig was om die probleem te ondersoek. Volgens die raad se Selby Bokaba is daar bevind dat die herstelwerk wat uitgevoer is, nie volgens die standaard prosedure gedoen is nie. Siende dat daar geen plaasvervangermeters beskikbaar is nie, het die kontrakteur ‘n sogenaamde reguit T-verbinding (straight T-connection) uitgevoer, het Bokaba verduidelik.
“Die afdeling het nuwe watermeters bestel en sodra die nuwe voorraad beskikbaar is, sal hul die totale meterinstallering rehabiliteer,” het hy gesê. Bokaba het verseker dat die meter en plastiese meterboks hierdie week nog herstel sou word.
