CrimeLocal newsNews

Bestuurder van landgoed praat oor gesinsmoord

Die familie van die gesin wie se lyke Maandag by die Woodlands landgoed ontdek is steeds besig om die skokkende nuus te verwerk en hulle sal eers meer inligting teen 'n later staduim bekend maak.

Familie en vriende van die gesin wat Maandag in die Woodlands landgoed dood is,  is in dié stadium te getraumatiseer om met die media te praat. Dit volg nadat ‘n 32-jarige  man glo sy twee seuntjies, 2 en 4 jaar oud, en sy vervreemde vrou, Carla doodgeskiet het voordat hy selfmoord gepleeg het.

Die gesin se lyke is Dinsdag deur die familie uitgeken. Estelle du Plessis, bestuurder van die luukse Woodlands landgoed het Maandag op dié gesin se lyke in die luukse Woodlands landgoed buite die klubhuis afgekom.

“Ek is steeds in skok oor die voorval, ek het omstreeks13:00 op hulle lyke afgekom. Dit was baie traumaties,” het Du Plessis Dinsdag gesê.

Kaptein Colette Weilbach  het gesê ’n ooggetuie het die 32-jarige Carla en haar twee seuntjies Maandagoggend by die park in die kompleks gesien.  Die man het glo kort daarna by die kompleks opgedaag om by sy kinders te kuier.

Weilbach het gesê die man het vermoedelik eers sy gesin en toe homself doodgeskiet.

Weilbach het bygevoeg dat  ‘n vuurwapen op die toneel gevind is.

Volgens Du Plessis ontvang die familie tans traumaberading. “Dit is ‘n verskriklike ding wat gebeur het. Ons as die bestuur van die landgoed wil net ons innige meegevoel aan die familie betoon. Ons sal hulle deur die hartseer en traumatiese tyd bystaan in enige manier moontlik.”

Carla se swaer, Eugene Henning het Dinsdag aan Rekord gesê die familie is steeds besig om die skokkende nuus te verwerk en hulle sal eers meer inligting teen ‘n later staduim bekend maak.

Lees ook:

Man skiet glo vrou, kinders voor selfmoord

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button