CrimeLocal newsNews

Dogter vertel van angs nà rowers ma doodskiet

'n Gesin is erg getraumatiseer nadat 'n ma en vrou onlangs deur 'n groep rowers doodgeskiet is.

’n Engel en die lig in almal se lewens is Saterdagaand onnodig en op onnatuurlike wyse van haar familie weggeneem.

Susan (47) Nel is Saterdagaand langs haar man, Nico (51)  in hul motor deur ‘n groep rowers in Roohuiskraal doodgeskiet.

Susan se jongste dogter, Mardi, het Dinsdagoggend met Rekord die goeie herinneringe aan haar ma gedeel.

“Sy was altyd positief en sy was altyd daar vir ons,” het die twintigjarige Mardi gesê.

Mardi, wat haar bebloede ma in haar hande gehou het na die grusame voorval, het gesê haar ma was haar beste vriendin.

Sy het Saterdagaand nagskof by ‘n mediese kliniek in die omgewing gewerk. Haar ouers het Saterdagaand oudergewoonte vir haar eetgoed vir die nagskof gebring.  Haar ma is kort daarna by noodlottig by die Phillips-kafee geskiet.

Die egpaar het na dié kafee op die hoek van Panoramaweg en Yelandestraat gegaan om hout en vuuraanstekers te koop.

Hulle albei was reeds in hul voertuig toe ‘n groep rowers na hulle aangehardloop gekom het. Een van die rowers het tot langs die voertuig geharloop voordat hy ‘n skoot na die bestuurderkant afgevuur het.

Die koeël het Nico gemis, maar Susan is in die agterkop getref.

Nico het met sy vrou na die mediese kliniek gejaag waar Mardi enkele minute tevore haar ma gegroet het.

“Ek was histeries toe ek my bebloede  ma in die kar gesien het. Ek het histeries in die kliniek ingehardloop, maar besef my ouers het my nodig,” het Mardi vertel.

Susan is per ambulans na die Sunnighill Hospitaal geneem, waar sy kort na aankoms gesterf het.

Mardi het Dinsdag vertel hoe liefdevol haar ma altyd was.

As student aan die Universiteit van Pretoria, onthou sy haar ma se liefdevolle gebare soos om vir haar eetgoedjies te bring terwyl sy vir toetse gestudeer het.

Mardi wat tans besig is met ’n toetsreeks, is deur ‘n dokter twee weke verlof gegee om deur dié traumatiese tydperk te probeer werk.

Mardi se ouer suster Sannchen (23)  is ’n arbeidsterapeut.

“My pa is erg getraumatiseer, maar hy probeer sterk bly vir ons,” het sy gesê.

Mardi het vertel dat haar ouers ’n gelukkige huwelik gehad het. “Hulle het op 11 Oktober hul 27ste huweliksherdenking gevier en na al die jare nooit mekaar se sy verlaat nie.

Susan (47)  saam met haar man Nico (51) Nel.
Susan (47) saam met haar man Nico (51) Nel. Foto: Facebook

“My ma was altyd daar vir ander mense. Sy was ‘n berader  by die NG The Reeds en het ook Sondagskool aangebied,” het Mardi vertel.

“Ek het rustigheid oor waar sy nou is, want sy was ’n besonderse mens.”

Die gemeente het intussen uitgereik na die Nel-gesin in hul tyd van hartseer.

Susan word Saterdag om 11h00 uit die NG Kerk in Rooihuiskraal begrawe.

Lees ook:

Rowers skiet vrou in kop na gewapende roof

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button