Vuishou maak man byna blind
’n 50-Jarige man is glo so erg deur ’n vermeende dief geslaan dat die lens in sy oog geskeur het.
’n 50-Jarige man is onlangs naby die Gautrain-stasie in Valhalla aangeval en met die vuis bygedam.
Twee mans het Louis de la Porte uit die bloute in Gerhardstraat aangeval toe hy te voet na sy huis in Valhalla gestap het vanaf die Gautrain-stasie.
Hy het gesê dat die mans baie netjies aangetrek was en nie verdag gelyk nie. Toe hulle by hom aangekom het, het die een verdagte hom in die gesig geslaan wat veroorsaak het dat die lens in sy linkeroog geskeur het.
In sy beroep as ’n professionele lyfwag is hy baie bedag op aktiwiteite en mense om hom se gedrag. “Ek het egter so pas vir twee dae vanaf Irak gevlieg en was baie moeg,” het De la Porte verduidelik.
“Die twee mans was netjies aangetrek en het normaal gelyk – hulle het geen waarskuwingstekens getoon nie,” het De la Porte verduidelik.
Hy vermoed dat die vermeende aanvallers hom vanaf die Gautrain dopgehou het. “Hulle was beslis professioneel gewees,” het hy bygevoeg.
Sy handbagasie, met duursame items in, is van hom geroof.
De la Porte het die na die naaste vulstasie gegaan en die blitspatrollie geskakel.
“Daar was geen reaksie nie. Ek het ’n uur later weer gebel waarna hulle binne 15 min opgedaag het,” het De la Porte gesê,
Hy is van mening dat as die polisie vinniger gereageer het, kon hulle moontlik nog die verdagtes gevind het.
Teen druktyd was die polisie nie beskikbaar vir kommentaar nie, maar volgens De la Porte is ‘n saak van diefstal geopen.
Hy moet in November ’n baie sensitiewe operasie ondergaan om die lens in sy oog te herstel. “Die dokter het gesê as ek nie geopereer word nie, sal ek blind word in my linkeroog,” het hy gesê.
