
‘n Vrou wat ‘n karton sigarette by ‘n smous in Pretoria-Noord gekoop het, was baie onsteld toe sy koerantpapier in stede van sigarette binne-in dié boksies gevind het.
Fransie Roux het verlede Vrydag by die Northpark winkelsentrum in Pretoria-Noord inkopies gedoen toe ‘n informele smous haar buite die sentrum nader.
“Hy het vir my gesê dat hy ‘n karton sigarette aan my sal verkoop vir R90.”
Roux het vertel dat sy aanvanklik die man se aanbod van die hand gewys het, maar dat hy aangehou het om die prys te verlaag.
“Hy het gesê dat ek die karton vir R50 kan kry en het die pak sommer in my kruideniersware se sakkies gedruk.”
Sy het gedink dat dit ‘n baie goeie prys is, maar was ontsteld toe haar man ‘n pakkie oopmaak en net opgefrommelde koerantpapier vind.
“Ek weet dit is onwettig om sigarette van smouse te koop, maar die man het die prys bly afslaan en was aanhoudend en daarom het ek die pakkie gevat.”
Die tien pakkies wat in die karton is, is geseël met plastiek en het gelyk soos ‘n sigaretpakkie wat by die winkel gekoop kan word.
Roux het gesê dat sy graag mense wil maan uit haar persoonlike ervaring om nie sigarette by onwettige verkopers aan te skaf nie.
’n Groot tabakvervaardiger, wat verkies om anoniem te bly, het vroeër aan Rekord gesê dat die verkoop van onwettige en nagemaakte tabakprodukte een van hul grootste uitdagings is. Dit raak nie net hul inkomste nie, maar dit hou ook aansienlike gesondheidsrisiko’s vir klante in.
“Daar is talle veldtogte wat daarop gemik is om ons klante in kennis te stel dat hulle tabakprodukte by betroubare winkels moet koop.”