Gesin oor geliefde man se moord
Gesin praat oor geliefde man en pa van Monumentpark wat wreed vermoor is.
Die netjiese huis in Pikkewynstraat, Monumentpark, waar siviele ingenieur, Michiel Loubser (58) Woensdagaand deur gewapende rowers doodgeskiet is, was die naweek ‘n toneel van grenslose hartseer.
Loubser is Woensdagaand, nadat hy by ‘n klubhuis gaan swem het, omstreeks 19:30 oorval deur vier gewapende rowers wat kort nadat hy die veiligheidshek van sy huis oopgesluit het, agter hom in die oprit ingejaag het. Loubser het probeer vlug, maar is met twee skote deur albei bene geskiet wat vermoedelik altwee slagare getref het. Ten tyde van die voorval was sy vrou, Helena, in Johannesburg met ‘n eiendomskursus besig.
Liizl Miller, ‘n kliniese sielkundige wat skuins oorkant die Loubser-gesin woon, het die skote gehoor. Sy het dadelik die Loubser-huis gebel, maar toe sy geen antwoord kry nie, het sy Helena Loubser op haar selfoon gebel en gesê sy het skote gehoor.
Toe sy hoor dat Helena in Johannesburg is, het sy ‘n buurman gebel wat ondersoek ingestel het. Hy het Loubser, swaar gewond en in ‘n plas bloed, op die stoep naby die voordeur van hul woning aangetref. Die bure het gesien hoe ‘n wit motor met vier insittendes daarin van die huis wegjaag.
Miller het dadelik die Netcare ambulansdiens gebel.
“Hulle het die bloeding probeer stop en met hom na die Unitas hospitaal gejaag,” het sy gesê. Helena het dadelik nadat sy die eerste oproep van Miller gekry het ook na die Unitas hospitaal gejaag.
“By my aankoms kon hy my nog erken. Die wonde was egter te massief. Hulle het vier ure geopereer en hulle het hom veertien pinte bloed met ‘n oortapping gegee, maar wat net so uitgeloop het,” het Helena bedroef vertel.
“Daar het al verskeie voorvalle van huisbraak in die gebied voorgekom. Self het ons al ‘n paar ondervind, maar nadat ons ‘n veiligheidsheining omgesit het, nie weer nie,” het sy vertel.
Nick Nicolaou, voorsitter van die gemeenskapspolisieringsforum (GPF) van Brooklyn sektor vier het aan Rekord gesê dit is harseer en onnodig om ‘n geliefde inwoner aan misdaad te verloor.
“Misdaad is aan die toeneem soos die einde van die jaar nader kom. Ons doen ‘n beroep op inwoners om dringend hulself beskikbaar te stel om patrollies in die woonbuurt van sektor vier te doen. Visuele polisiering is ons beste wapen om misdaad in die omgewing te bekamp,” het hy gesê.
Loubser het as ‘n siviele ingenieur by P.D. Konsultante gewerk. Bure, vriende en werkskollegas wat sedert die moord vertroosting en hulp kom aanbied het, het hom beskryf as ‘n besondere joviale, warm en innemende persoon.
“Hy was ‘n uitstekende ingenieur en hy was versot op swem. Ek self kan nie swem nie en hy het my oorgehaal om verlede week ‘n swembroek te koop. Hy sou my vandeesweek nog leer swem het,” het Sydney Malisela, ‘n kollega van hom gesê.
Die moordenaars het met ‘n TV skerm, ‘n stukkende skootrekenaar en ’n paar stukkies juwele ontsnap. Die soektog na die moordenaars duur voort, maar niemand is nog in verband daarmee in hegtenis geneem nie.
Loubser word oorleef deur sy vrou Helena, ‘n seun Isak en ‘n dogter Marcel.
Die begrafnis vind eerskomende Vrydagoggend om 11:00 vanuit die NG Kerk Pretoria-Oos plaas.
