CrimeLocal newsNews

Gesonde dogtertjie vir beenmurg-slenter gebruik

’n Sosiale mediaboodskap wat die rondte doen om geld vir ’n sieklike 20-maande oue Kayleen in te samel, is glo ’n klug.

’n Sosiale netwerkboodskap wat die rondte doen rakende ’n klein dogtertjie met die naam Kayleen wat dringend beenmurg nodig het of sy gaan sterf, is ’n klug.

Die familie van die 20-maande oue Kayleen, in werklikheid Suerelda Burger van Mountain View, is briesend nadat hulle inligting ontvang het dat ’n vrou met die naam van Armonay Martini hul dogter se foto’s gebruik om derduisende rande in te samel.

Volgens Hilda MacDonald, die ouma, het haar kleindogter ongeveer twee weke gelede haar mangels in die Eugene Marais-hospitaal laat uithaal waarna sy foto’s van die kind geneem het en op haar eie Facebook-blad geplaas het.

MacDonald het tydens haar kleindogter se verblyf by Eugene Marais gereelde Facebook-opdaterings gemaak. Die sogenaamde Martini het glo die foto’s van haar Facebook-blad afgelaai en ’n nuwe blad geskep waar sy die foto’s van Suerelda gebruik het.

“Die vrou het vir geld gevra, O-negatief bloedtipe of beenburg. ’n Man wat verkies om anoniem te bly, het die inligting ook begin versprei om die dogterjie te help,” het MacDonald gesê.

Volgens die sosiale boodskappe het sy nie net geld vir Suerelda ingesamel nie, maar ook vir haar tweeling-boetie wat nie bestaan nie. Albei kinders, volgens Martini, het ’n baie rare siekte wat hul dood kan veroorsaak.

Die man het sowat 15 000 e-posse begin uitgestuur om met bewusmaking te help en die vrou gedurig ontmoet om vir haar donasies te oorhandig. Volgens MacDonald het die vrou met ongeveer R39 000 verdwyn.

“Die man het uiteindelik ’n beenmurgskenker ontdek, die vrou gebel en die nuus met haar gedeel waarna sy vir hom gesê het dat die kind ongelukkig reeds dood is. Ek kan nie glo dat iemand sulke leuens kan versprei nie.”

Volgens MacDonald het een van die man se kontakte hom gebel en gevra wie die vrou op die foto is wat Suerelda in haar arms vashou. Hy het gesê die vrou se naam is Jolene waarop die kontak gereageer het dat haar naam eintlik Endriette MacDonald is en dat sy haar persoonlik ken.

“Dit is hoe die man toe uiteindelik uitgevind het dat die storie ’n slenter is en my toe in die hande gekry het. Die man is verpletter. Hy kon sy oë nie glo toe hy vir klein Suerelda, lewend, gesien het nie. Dit is ’n aaklikge ervaring,” het MacDonald gesê.

MacDonald het versoek dat alle inwoners hierdie slenter vermy en om haar te kontak indien hulle enige inligting rakende hierdie saak het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button