Vermiste bejaarde glo in aanhouding
’n Bejaarde man van Capital Park wat verlede Sondag deur sy familie as vermis by die Wonderboompoort-polisie aangemeld is, is ’n week later opgespoor.
‘n Bejaarde man wat vermis is, het verlede Maandag in die hof verskyn op ‘n aanklag van winkeldiefstal. Die vermiste is uiteindelik opgespoor waar hy glo in aanhouding is.
Sy familie het naarstiglik na die 58-jarige Johan Potgieter begin soek nadat hulle hom op 25 Oktober vir die laaste keer gesien het. Volgens sy stiefdogter, Phyllis Harvey, is hulle verlig dat hulle hom uiteindelik opgespoor het.
Potgieter het glo Vrydag voor 10:00 sy huis in Capital Park verlaat om soos gewoonlik sy biblioteekboeke te gaan ingee. Dit was egter die laaste keer dat sy familie hom gesien het.
Volgens Harvey is dit haar stiefpa se gewoonte om sy boeke elke Vrydag na die Mayville biblioteek terug te neem en dan nuwe boeke uit te neem. Hy stap van Capital Park na Mayville, maar kom altyd weer huistoe.
Harvey het gesê haar stiefbroer het aanvanklik niks daarvan gedink toe hy sy pa nie gedurende die oggend gesien het nie, maar teen verlede Saterdag het hy baie bekommerd geraak.
Volgens die polisie is Potgieter egter vir winkeldiefstal in hegtenis geneem. Die familie wou nie daaroor kommentaar lewer nie.
Lees ook:
