SMS-lyn wil stad se naamsverandering bepaal
Pretorianaam gallop met reuse spronge.

Pretoria se naamstryd het ‘n nuwe ekonomiese baadjie gekry nadat die geloofsministerie, Spirit Purpose Network NPC, ‘n onafhanklike vyfrand SMS meningspeiling van stapel gestuur het.
Pieter de Necker, voormalige woordvoerder van die Tshwane metro se uitvoerende burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, het ‘n Choosenow-boodskap aan kollegas van hom, Earl Mondhlane, Earl R. Lutchman, Earl Rossouw, Earnest B. Setshedi, Eben Kleynhans, Ebenezer Peters, Ebrahim Dawood, Ebrahim Jeeva, Ebrahim Shaboodien, Echardt E. le Roux, Eckhard Olyschlaeger en Eddie Bates, elk ‘n SMS gestuur met die boodskap, “Kollegas, mense word aangemoedig om deel te neem aan ‘n SMS-peiling rakende die naam van die stad. As jy wil deelneem, SMS jou keuse van Pretoria/Tshwane na 37587. Neem asseblief kennis, dat ek hierdie SMS in my persoonlike hoedanigheid stuur en nie namens die stad van Tshwane nie.”
Choosenow, word deur die Spirit Network SPN bedryf. Die ministerie beskryf hulself as ‘n onafhanklike, uiteenlopende groep van individue wat dieselfde algemene waardes, ongeag van geloof, ras, geslag of seksuele oriëntasie onderskryf.
Die onafhanklike meningspeiling met die naam Choosenow en webwerf CHOOSEnow.co.za het ondanks die feit dat elke SMS R5 kos, verrassende resultate opgelewer. Dit het, sover vasgestel kan word, op 11 Oktober 16:00 afgeskop met 62,8% stemme ten gunste van Pretoria en 37,2% ten gunste van Tshwane. Op 12 Oktober om 9:00 was die stemme 63,6% vir Pretoria en 36,4% ten gunste van Tshwane. Later dieselfde dag, om 22:00, het 54,7% mense ten gunste van Tshwane gestem en 45,3% ten gunste van Pretoria.
Dit het egter op 13 Oktober met die 10:00 peiling verander na 51,8% vir Pretoria en 48,8 % vir Tshwane. Op Maandag 14 Oktober om 9:00 het die Tshwane naam met ‘n kortkop van 50,2% teenoor die Pretoria naam van 49,8% voorgeloop. Dieselfde dag om 19:00 was daar ‘n reuse swaai terug na die Pretoria naam met 88,4% ten gunste van Pretoria en 11,6 % ten gunste van Tshwane.
Sedertdien het nege uit elke tien SMS-boodskappe hulle ten gunste van Pretoria uitgespreek en was die stemming van 15 Oktober deurgaans 90% plus teenoor ‘n gemiddelde van 9,38% ten gunste van die Tshwane naam.
