CrimeLocal newsNews

Vermeende dief na 10 jaar vas

Man na tienjaar op vryevoet uiteindelik deur Wonderboompoort-polisie in hegtenis geneem.

’n Verdagte man wat sedert 2003 soek is nadat hy glo R50 000 van sy werkgewer gesteel het, is uiteindelik na tien jaar op vrye voet in hegtenis geneem.

Adjudant-offisier Ronel Bronkhorst en speurderkonstabel Leslie Sibanda van die Wonderboompoort-polisie het die man in Orkney opgespoor waar hulle hom op ‘n klag van bedrog en diefstal in hegtenis geneem het. Die verdagte het glo die geld by ’n vulstasie in E’skia Mphahleleweg gesteel.

Volgens Adjudant-offisier Wanda Olivier, woordvoerder van Wonderboompoort-polisie, het die verdagte na bewering die besigheid se stelsel gemanipuleer waarna hy deur sy werkgewer betrap is. Sy het gesê dat die verdagte glo belowe het dat hy die probleem sou oplos, maar hy het spoorloos verdwyn.

“Die lede het die man se inligting opgespoor nadat hy ’n saak teen iemand anders gelê het. Hulle het na sy woning in Orkney gegaan waar die verdagte sy prokureur aangesê het om die polisie te spreek. Omdat die man reeds ’n lasbrief teen sy naam het, kon die prokureur nie sy kliënt van die polisie weg hou nie. Hy kan ook nie op borgtog vrygelaat word nie weens die hoë verlies wat die vulstasie gelei het.”

Die verdagte is in hegtenis geneem en die uitslag van die hofsaak word afgewag.

Intussen het Wonderboompoort-polisielede twee mans en ’n vrou in twee verskillende insidente vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.

Olivier het gesê die twee mans, albei van Pretoria-Noord, het bevestig dat hulle dwelms vir ’n geruime tyd gebruik. Albei het Maandag in hof vir die besit van dwelms verskyn.

“Die verdagte 44-jarige vrou, ook van Pretoria-Noord, is op die hoek van Louis Trichardtstraat en Mansfieldrylaan vir die besit van dagga inhegtenis geneem. Die vrou het beweer dat sy groente en vrugte in Pretoria-Noord wou koop, maar dat haar man haar gestuur het om dagga in die Moot te kom koop,” het Olivier gesê.

Die vrou het ook Maandag in die hof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button