Vrou sluit haarself toe vir inbrekers
’n Vrou, wat alleen by tuis was, se lewe is in gevaar gestel toe twee mans daar ingebreek het.
’n Vrou is verheug dat sy oorleef het nadat twee verdagtes by haar huis ingebreek het en sy haarself in die badkamer toegesluit het.
Twee verdagtes het Donderdagmiddag in ‘n huis in Rooihuiskraal ingebreek. ‘n Derde verdagte het in ‘n rooi voertuig buite die huis gewag.
Annette du Plessis het dadelik na haar slaapkamer gevlug en die deure agter haar gesluit toe sy agtergekom het dat diewe besig was om haar voordeur oop te breek. Du Plessis het vertel dat sy aanvanklik niks verdags opgemerk het toe sy ’n skaduwee agter haar TV gesien het nie.
“Ons bly al 30 jaar in hierdie huis en ek het nog nooit bang gevoel nie. Ek het gedink dat my man of seun moontlik iets by die huis kom haal het,” het sy gesê.
“Eers toe hulle die voordeur begin afbreek, het ek bang geword.”
Du Plessis het dadelik haar man, Pieter, wat in Sutherland Ridge saam met hulle seun Armand gewerk het, gebel vir hulp.
“Ek het na ons slaapkamer gehardloop en die deur agter my gesluit. Ek het toe myself in die badkamer ook toegesluit,” het sy vertel. “Alles het so vinnig gebeur. Twee mans het die kamerdeur oopgeskop en ek kon hoor hoe hulle besig was om rond te krap.”
Du Plessis het bevrees in die badkamer geluister na die inbrekers. Toe een van die mans die badkamerdeur prober oopmaak het, het sy yskoud word.
“Op daardie stadium was ek so vreesbevange dat ek nie kon beweeg nie. So baie gedagtes het deur my kop gegaan, want as hulle die kamerdeur so maklik kon afbreek, is ek seker hulle sou ook die badkamerdeur kon oopbreek,” het Du Plessis vertel.
Lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sekuriteitsbeamptes en die Wierdabrug polisie was vinnig op die toneel.
Die drie verdagtes het in verskeie rigtings gevlug.
Volgens Pierre Viviers, voorsitter van GPF Sektor 2 Wierdaburg is drie verdagtes gearresteer na ’n operasie van vier ure.
Viviers het gesê dat geen van die gesteelde items by die verdagtes gevind is nie, maar ’n sekuriteitsoffisier het een van die verdagtes positief herken van die misdaadtoneel.
Die items wat wel uit die huis gesteel is, is nie gevind nie.
Du Plessis se man en seun is baie dankbaar dat sy niks oorgekom het nie. “Ek is baie bly dat sy veilig is en verbaas oor hoe vinnig die polisie en GPF gereageer het,” het haar man gesê.
Vir Du Plessis was dit ‘n traumatiese ervaring, maar sy is dankbaar vir die gemeenskap wat vir haar bystand gebied het.
