CrimeLocal newsNews

Reaksie op verskuiwing van Kruger-standbeeld

Paul Krugerbeeld word dalk vanweë misdaad verskuif

Die moontlike verwydering van die Kruger-standbeeld op Kerkplein het wye en uiteenlopende kommentaar uitgelok.

Die woordvoerder van die uitvoerende burgemeester Kgosientso Ramokgopa, Blessing Manale, het Donderdag gesê dat die Tshwane metro vanweë die gereelde vandalisme van die Kruger-standbeeld daaraan dink om die beeld moontlik te verskuif.

Die standbeeld is ’n paar weke gelede beskadig deurdat een van die boerekrygers se geweerloop afgesaag is en die geweerband verwring is.

“Ons is bewus van die geweldige kulturele belang wat die standbeeld het. Dit verteenwoordig immers die ou Zuid-Afrikaansche Republiek. Ons het, nadat ons van die beskadiging van die beeld bewus gemaak is, dadelik ’n ondersoek ingestel en die Departement van Kuns en Kultuur van die beskadiging in kennis gestel. Tans word daar ’n paar kunstenaars oorweeg wat die beeld kan herstel. Daar is wel kringtelevisie op die plein en die Metro polisie se misdaadbekampingseenheid ondersoek die saak. Dit is nie die eerste keer dat die standbeeld beskadig is nie en ons ondersoek die moontlikheid om die beeld elders, na ’n veiliger plek, te verskuif,” het Manale gese.

Hy het bygevoeg dat die stadsraad oop is vir voorstelle van wat die munisipaliteit te doen staan.

Op sosiale media was daar stemme wat voorstanders was dat die beeld moet bly en ander wat betoog het dat dit na ’n veiliger plek verskuif moet word.

Sonja Lombaard, uitvoerende direkteur van die Voortrekkermonument, het gesê dat die Paul Kruger-standbeeld perfek sou inpas by die Voortrekkermonument.

“Paul Kruger was as ’n 12-jarige deel van die Groot Trek en as sulks pas dit perfek in by die tydlyn van die Voortrekkermonument. Dit is egter nie net ’n kwessie van oprig nie. Die monument se komittee besluit oor watter beelde op die terrein aangebring kan word. Sou dit egter moontlik wees dat die beeld van Kerkplein verwyder word, sal daar ook gelet moet word op die koste daaraan verbonde,” het sy gesê.

Barend Erasmus van die Vryheidsfront Plus in die Tshwane metroraad het gesê dat die verwydering van die Krugerstandbeeld op Kerkplein ondenkbaar is.

“As hulle (die Tshwane metro) die standbeeld sommer terstond wil verwyder sal daar groot ‘oorlog’ wees. Dit sal eers deur ’n hele proses van openbare deelname moet gaan. Daar is wette wat kultuurgoedere beskerm,” het hy gesê.

Sy partygenoot, Anton Alberts, het saamgestem dat Oom Paul moet bly waar hy is.

“Die beeld is wêreldbekend. Die munisipaliteit moet eenvoudig sy misdaadvoorkoming in die middestad opskerp. Om die standbeeld, wat omring is deur net sulke historiese geboue te verwyder, is nie die antwoord nie. As dit so sou kom dat die standbeeld wel verwyder word, kan daar nie ’n ander beeld in plek daarvan kom nie, want dan sal dit neerkom op kulturele diefstal. In so ’n geval moet daar dan eerder ’n fontein of iets dergeliks daar geplaas word,” het hy gesê.

Die kokusleier van die Demokratiese Alliansie (DA), Jan Boshoff, het gesê:

“Ek en Oom Paul verjaar op dieselfde dag. Daarom is die beeld vir my iets besonders. Ek dink nie dit is een persoon se besluit om die beeld te verskuif nie. Daar moet wyd met belangegroepe gekonsulteer word voordat so iets gedoen word. Persoonlik voel ek die beeld moet daar bly, maar net beter beskerm word. Dit help nie dat ons, ons kulturele goedere in pakkamers wegsluit vanweë misdaad nie,” het hy gesê.

Die Krugerstandbeeld met sy vier krygers is een van die stad hoof toeristeaantreklikhede en saam met die Uniegebou en Voortrekkermonument een van die bekendste bakens in die stad.

Sammy Marks het die groep beelde asook ’n duisend pond aan die stad van Pretoria geskenk vir die skep van n Krugerbeeld. Anton van Wouw het die Krugerbeeld geskep en dit is in Italië gegiet. Die basis van die standbeeld is in 1899 voltooi, maar die vier beelde van die boerekrygers is gedurende die Anglo-Boere-oorlog in die destydse Delagoabaai (Maputu) gehou. Die vier boerekrygers is ná die oorlog deur Lord Kitchener na Brittanje verskeep, maar deur die bemiddeling van genls. Louis Botha en Jan Smuts weer na Suid Afrika teruggebring. Op 24 Mei 1913 is die beeld by Prince Park onthul.

Die volledige beeld met die vier boerekrygers en Paul Kruger is op 10 Oktober 1925 (Krugerdag) deur genl J.B.M. Hertzog onthul. Dit is later na Kerkplein verskuif en op 10 Oktober 1954 daar weer onthul waar dit tot vandag toe nog ’n integrale deel van die stad en sy geskiedenis is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button