CrimeNews

Diewe teiken straatlampkabels

Diewe smous deesdae met gesteelde straatligkabels wat tot die groot frustrasie van inwoners én die Tshwane metro lei.

‘n Nuwe vorm van diefstal wat groot elektrisiteitsprobleme oplewer is die steel van gronddrade van straatligpale.

Spanne optekenaars van die Tshwane metro is in Centurion en die ooste van Pretoria ontplooi om lamppale te ondersoek in woongebiede wat ná die onlangse donderweer in die duister gelaat is.

Rekord het met een van die optekenaars, Brandon Makobela, ‘n straatblok saam gestap. In die straatblok was daar nie minder as agt straatligpale waarvan die gronddrade afgeknip was nie.

“Die gronddrade is nodig om die weerlig af te lei. Sonder die gronddraad word groot skade aangerig as die weerlig die lamppaal raakslaan. Dit het die effek dat strate en huise in donker gelaat word,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die probleem van die knip van die gronddrade moeilik vasgevat kan word.

“Die diewe knip net dié deel wat hulle kan bykom bokant hul koppe en by hul voete af. Dit word snags vinnig gedoen en hulle is tevrede met ‘n hele lot kort stukke gronddrade wat dan by ‘n skrootwerf gesmous word,” het hy gesê.

Die optekenaars is aangesê om ook te let op enige ander probleme wat met oorhoofse drade ondervind word, soos boomtakke wat te naby is, voëlneste, roes in kragbronne en ander drade wat oor die kragdrade kruis. Die verslae van die optekenaars word opgevolg met spanne elektrisiëns of boomknippers wat agterna die foute moet kom regstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button