‘n Onderwyseres het die afgelope naweek die dood in die oë gestaar toe twee inbrekers haar vasgebind en haar beroof het.
Estelle Fouche van Dorandia het vir haar lewe gevrees toe sy Sondagoggend om 02:00 besig was om televisie te kyk toe twee verdagtes doodluiters by haar sitkamer instap, haar hande vasbind en haar mond toebind.
“My twee kinders was gelukkig by hulle ouma en my man was die aand uit. Ek het alleen in die sitkamer gelê en televisie kyk en myself boeglam geskrik toe die mans in die sitkamer inloop.”
Fouche, ‘n onderwyseres by Hoërskool Tuine in die weste van Pretoria, het gesê dat sy ongeveer vyf jaar gelede ook die slagoffer van misdaad was toe twee verdagtes haar met ‘n gebreekte bottel aangehou en beroof het terwyl sy en ‘n vriendin ‘n staproete geniet het.
Sy het al die slegte herinneringe van die vorige voorval herleef, maar dit het haar ook voorberei en miskien selfs haar lewe gered het tydens die jongste voorval.
“Ek het onthou wat ek geleer het tydens die vorige keer wat ek beroof is. Ek het geleer om alles te doen wat die mans vir my bevel. Ek het hulle glad nie in die oë gekyk nie en ek het ‘n rukkie gewag nadat hulle weg is.”
Die mans het vir Fouche gesê sy moenie skree terwyl hulle haar juwele en elektroniese toestelle uitgedra het nie.
“Hulle het geen wapens aan hulle gehad nie, maar ek was bang hulle my sou verwurg as ek nie doen wat hulle sê nie.”
Sy kon wel bepaal dat hulle in hulle vroeë twintigjare is.
Nadat hulle weg is, het Fouche nog ‘n hele ruk gewag om seker te maak dat hulle weg is, waarna sy haarself losgewikkel het en hulp gaan vind het by die bure.
“Dit is ‘n baie nare ervaring. Jy verwag die ergste en al wat jy kan doen is bid.”
