
Wees versigtig vir ‘n man wat homself voorgee as ‘n natuurbewaarder in die Moot en vra vir donasies, waarsku ‘n bekommerde sake-eienaar.
Jean Cash van Rietfontein het gesê dat hy ‘n verdagte man oor die afgelope paar weke opgemerk het wat niksvermoedende kopers voorkeer en vir donasies vra in ‘n poging om ‘n bewusmaking oor natuurbewaring te skep.
Volgens Cash het die polisie die verdagte man by verskeie geleenthede verwyder.
“Die man het ‘n knipbord en donasievorms by ‘n besigheid gelaat, maar nooit weer teruggekeer nie. Ek het begin om navorsing oor hom te doen en het tot die gevolgtrekking gekom dat dit net nog ‘n slenter is. Ek wil kopers en inwoners waarsku om onder geen omstandighede vir dié slenter te val nie,” het Cash gesê.
Hy het gesê die vorms het verskeie donasie-inskrywings gehad wat wissel van R20 tot R50.
Volgens Cash is daar mense wat so ‘n intense liefde vir diere en die natuur het dat hulle blindelings donasies sal gee selfs al het hulle nie twee sente om teen mekaar te vryf nie.
“Nie almal wat vir donasies vra, is besig met ‘n slenter nie, maar ek versoek inwoners om wysheid aan die dag te lê indien hulle ‘n donasie wil maak. Wees paraat,” het Cash gewaarsku.
