Polisieman geskok na laaste gesprek met vriend
Thys Pretorius, 'n welbekende sakeman en plofstofdeskundige van Pretoria-Noord, is op 11 November in die kop geskiet en van geld beroof by sy sake-onderneming in Klerksoord, Akasia, terwyl hy besig was om oor die foon te gesels met sy goeie vriend, Sersant Stoffel Holtzhausen.
‘n Doodgewone oproep tussen twee vriende het ontaard in ‘n nagmerrie nadat een tydens dié oproep in die kop geskiet is.
Thys Pretorius is op 11 November in die kop geskiet tydens ‘n gewapende roof by sy sake-onderneming in Klerksoord, terwyl hy besig was om oor die foon te gesels met sy goeie vriend, Sersant Stoffel Holtzhausen.
Pretorius is ‘n welbekende sakeman en plofstofdeskundige van Pretoria-Noord.
Holtzhausen het sy grusame ervaring met Rekord gedeel.
Pretorius het Holtzhausen die aand geskakel om net te gesels. Tydens die gesprek Pretorius het aan Holtzhausen gesê dat hy geluide in sy sake-onderneming gehoor het. Daarna het hy sy vriend se naam twee keer uitgeroep.
“Toe Thys my naam twee keer uitroep, kon ek in sy stemtoon dadelik hoor iets was verkeerd.”
Holtzhausen het ná die noodkreet drie skote gehoor.
“My polisie-instink het dadelik ingeskop en dinge het daarna baie vinnig gebeur. Ek het onmiddelik huis toe gejaag om my koeëlvaste baadjie te kry en is dadelik na die toneel.”
Holtzhausen was eerste op die toneel en het op Pretorius se liggaam afgekom.
Die verdagtes het toe reeds weggekom.
“Ek kon nie dadelik verwerk wat gebeur het nie, maar nadat ek by die toneel klaar was en al die inligting aan die Akasiapolisie verstrek het, het ek eers besef wat pas met my gebeur het.”
Holtzhausen is na die voorval getraumatiseerd en ontvang tans sielkundige berading.
“Ek gaan Thys mis. Hy was ‘n opregte man en ‘n baie goeie pa vir sy twee seuns,” het Holtzhausen oor sy vriend van meer as ses jaar getuig.
Pretorius se suster, Martie Pistorius, het gesê dat haar broer Saterdag uit die NG Kerk Onderstepoort begrawe is.
“Daar was ongelooflik baie mense. My broer was baie geliefd in die gemeenskap en hy gaan baie gemis word.”
Kaptein Riana van Aarde van Pretoria-Noord se polisiestasie het gesê dat ‘n saak van moord en besigheidsroof geopen is. Sy het bygevoeg dat geen arrestasie sover gemaak is nie en dat die polisie steeds besig is met ondersoeke.
