Local newsNews

Blou is sy huis

Shorty van Aarde ondersteun sy gunsteling rugbyspan, die Blou Bulle, deur sy tuiste in 'n Blou Bulle heiligdom te omskep.

Pienk, pers, blou of geel, hierdie Blou Bul ondersteuner in die noorde van Pretoria sê blou bly sy kleur.

Met die Blou Bulle se nuwe groen kamoefleertruie wat hulle tydens wegwedstryde in 2014 gaan dra, sê Shorty van Aarde hy bly ‘n Blou Bulle ondersteuner. Daarom het hy sy hele tuiste omskep in ‘n Blou Bulle heiligdom.

Van Aarde van Theresapark se huis is van hoek tot kant blou geverf met honderde Blou Bulle aandenkings en staan uit soos ‘n seer duim.

Die mure, die strooikussings op die banke en sy sigaretaansteker is blou.

“Jy sal my nooit sien sonder my blou t-hemp of my Blou Bulle hoed nie,” het Shorty verklaar.

Hy het gesê dat hy al vir jare ‘n Blou Bulle aanhanger is en dat hy altyd ‘n aanhanger sal bly van dié span.

Die huis met die Blou Bulle se embleem groot daarop geverf, het ongeveer 12 jaar terug sy blou baadjie ontvang.

“Ek is mal oor rugby en is ‘n groot Blou Bulle ondersteuner. My huis is my manier om my ondersteuning vir die span te wys,” het Van Aarde trots gesê.

Sy vrou, Dina, wat net so ‘n groot aanhanger is van die span, het gesê dat sy ook trots is op die huis. Alhoewel sy self haar patriotisme wil wys vir die span met hulle blou huis, het sy bygevoeg dat sy die streep getrek het toe Shorty hulle beddegoed wou blou maak.

“Ek kan nog al die blou om my hanteer, maar toe hy gesê het ons beddegoed in die slaapkamer moet ook blou wees, toe weier ek volstrek,” het sy spottenderwys vertel.

Shorty sê dat hy uitsien na die rugbyseisoen volgende jaar en dat hy ten volle agter sy span staan, al speel hulle in groen kamoefleertruie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button