Inwoners glo self verdagtes na inbrake in Woodhill
Inwoners van die luukse gholflandgoed, Woodhill, is glo per brief in kennis gestel is dat die inbrekers en ander diewe wat hulle die laaste tyd teister, self inwoners is.

Die polisie se forensiese ondersoekspan sowel as sekuriteitskenners is besig om ‘n vlaag inbrake in die rykmans landgoed van Woodhill in die ooste van Pretoria te ondersoek.
Volgens die landgoedbestuurder, Harold Jooste, word die modus operandi van verdagte persone ondersoek om ‘n einde te bring aan inbrake wat sedert Oktorbermaand binne die landgoed plaasgevind het.
“Ons werk baie hard daaraan om die persone vas te trek en het kenners wat deel uitmaak van die ondersoekspan. Ons wil nie verder te veel inligting deel nie aangesien dit moontlik die ondersoek kan belemmer,” het hy aan Rekord gesê.
Mediaberigte beweer dat inwoners van die luukse gholflandgoed glo per brief in kennis gestel is dat die inbrekers en ander diewe wat hulle die laaste tyd teister, self inwoners is.
Die brief beweer dat daar sowat 17 inbrake en ander diefstalvoorvalle in die rykmanswoonbuurt plaasgevind het die afgelope paar maande. Veral elektroniese toerusting soos iPads, skootrekenaars en selfone is gesteel.
Volgens adjudant-offisier, Dave Miller van die Garsfontein-polisiestasie, is ‘n polisie-ondersoek reeds onderweg. Persone moet altyd op hul hoede wees, self al woon hulle in ‘n sekuriteitslandgoed. Opportunistiese kriminele sal toeslaan as hulle die kans kry. Ek kan besvestig dat die inbrake by Woodhill ondersoek word.”
