Die stortingsterrein by Garstkloof sluit op 31 Desember na inwoners se jarelange stryd om dit te verwesenlik. Die stortingsterrein was die oorsaak van ’n magdom veiligheids- en gesondheidsprobleme in die omliggende woonbuurte van Wingatepark en Elardauspark.
‘n Inwoner, Christo Burger, het aan Rekord gesê hy is baie verlig oor die nuus aangaande die sluiting.
“My erf grens aan die stortingsterrein en ek sukkel al vir jare lank reeds met sekuriteit weens plakkers wat daar woon. Nou gaan dinge hopelik verander, aangesien daar niks meer gaan wees om hulle hier te hou nie.”
Nog ‘n Wingatepark inwoner, Sandra Meintjies, is opgewonde oor die nuus.
“Ons sukkel al vir jare met die terrein wat wanbestuur word. Die hoop vullis is al lankal oor die toelaatbare hoogte. Die sluiting is inderdaad goeie nuus,” het sy aan Rekord gesê.
Inwoners kan steeds die terreine in Rooihuiskraal en Waltloo gebruik om tuinvullis te verwyder.
Die kwessie van oorvol stortingsterreine in die ooste van Pretoria bly egter ‘n ernstige bron van frustrasie vir inwoners. Hulle neem die Tswhane-metro kwalik vir swak diens, maar die metro sê ongedissiplineerde inwoners ignoreer die regulasies oor en voorwaardes vir die storting van tuinvullis.
Die metro het intussen die diensure by die tuinvullisterreine verleng om ook Sondae oop te wees van 08:00 tot 14:00 in ‘n poging om onwettige storting te voorkom.
Volgens Ludwig Bruwer, was daar onlangs byna ‘n uur vertraging vanweë die gebrek aan infrastruktuur by Menlopark se stortingsterrein.
“Inwoners wat hul tuinrommel hier wou afgooi moes vir byna 45 minute in ‘n ry staan omdat vyf staalhouers stukkend was en net twee vragmotors die vol houers wiggery het. Ek is moeg vir aanhoudende swak verskonings wanneer ek navraag doen,” het hy aan Rekord gesê.
Johan Muller is nog ‘n ontevrede inwoner wat glo vandeesweek gedreig het om sy tuinvullis voor die hek van die Menloparkterrein af te laai nadat wagte geweier het om hom toegang tot die perseel te gee.
“Ek was nog binne die vasgestelde ure van die terrein, maar die wag wou my nie inlaat nie want die vragmorer was glo reeds weg vir die dag. Toe ek dreig om my vullis voor die hek te los, is daar egter vir my oopgemaak. Dit maak my briesend. As inwoner wil ek die regte ding doen, maar ek word gepootjie deur die metro se amptenare,” het hy aan Rekord gesê.
Die bestuurder van 12 van die metro se stortingsterreine, Herman Booyse, sê inwoners is moedswillig en moet self verantwoordelikheid neem vir vertragings by die stortingsterreine.
“Die metro behou die reg om inwoners weg te wys wanneer ‘n stortingsterrein die daaglikse limiet bereik. Dit is nie ‘n reg van inwoners nie, maar ‘n diens wat deur die metro aangebied word. Ons probeer ons bes om ‘n volhoubare diens aan die publiek te lewer, al is daar soms tegniese probleme.”
Booyse het aan Rekord erken dat die kettings van die dromme wat op die vragmotors gelaai word soms probleme gee.
“Dit is waar dat infrastuktuur soms vertragings laat by die kleiner terreine, maar die publiek is self ook skuldig aan die vertragings. Daar is duidelike riglyne aangaande die tuinvullis, anders kan dit die dromme en die vragmoters wat die rommel wegry beskadig, wat dan lei tot vertragings en selfs die tydelike sluiting van terreine.”
Verder het Booyse gewaarsku dat die metro die onwettige storting van rommel in ‘n baie ernstige lig sien.
“Al ons tuinvullisterreine is oop op Sondae om die publiek te akkommodeer. Die metro poog om saam met die publiek die stad skoon te hou en daarom is die openingsure van die terreine verleng.”
