Ná ’n jaar geen oplossing vir waterlek
’n Waterlek wat al vir langer as ’n jaar die inwoners van Queenswood tuister is nog steeds nie opgelos nie, selfs glo ná talle oproepe aan die Tshwane-metro.
’n Jaarlange aanhoudende waterlek in Queenswood het inwoners die herrie in.
Die ondergrondse waterpyp wat die lek veroorsaak, is glo op verskeie geleenthede aan die Tshwane-metro gerapporteer, maar die problem is nog steeds nie opgelos nie.
Die inwoners van Carterlaan, waar die grootste probleem lê, het gesê dat die waterlek die water tot so ’n mate laat opdam het dat dit moerasse vorm en insekte lok.
“Ons is raadop. Wat meer kan ons doen om die metro se aandag te trek. Hulle waarsku ons om water te spaar terwyl hulle toelaat dat derduisende liters water tot niet gaan,” het Kobus Viljoen gesê.
Volgens Viljoen het hy die metro al in Junie 2013 gebel terwyl sy buurvrou in Mei 2013 die metro oor die waterlek gebel het.
“Ek was nie die eerste inwoner wat hulle oor dié probleem gebel het nie. Die heel eerste oproepe was al vroeg in 2013. Die water stroom die pad af en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie,” het Liz Sistenich gesê.
Sy het gesê hul bure het al ’n sloot in hul erf gegrawe om die water weg te lei. ’n Ander inwoner sukkel met muskiete wat weens die groeiende moeras gelok word.
“Dit is net probleem op probleem wat ons hoop binnekort opgelos sal word. Om met ’n waterlek vir langer as ’n jaar te sukkel is belaglik,” het Sistenich gesê.
Die metro het teen druktyd nog geen terugvoer verskaf nie.
