Geen voorsiening vir rampe in Tshwane tydens moontlik ergste vloede
Raadslid Ina Strijdom beweer die Tshwane rampbestuur het geen voorraad beskikbaar gehad om te verhoed dat water Maandag in die mense se huise ingaan.
Inwoners van Centurion is van mening dat die afgelope week se vloede die ergste is wat die voorstad nog getref het. Michael Uys wat al 38 jaar in Centurion woon, sê: “die watervlak van die Hennopsrivier het nog nooit tevore so hoog gestyg nie”.
Raadslid Ina Strijdom het Dinsdagmiddag aan Rekord gesê dit is kommerwekkend dat geen voorsiening deur rampbestuur gemaak is om die kritieke situasie te hanteer nie.
“Twee jaar gelede het Clubview ’n soortgelyke geval ondervind toe die oorstromings hewige skade aan eiendomme aangerig het. Toe is daar ook nie voorsiening gemaak daarvoor nie en vanjaar is dit dieselfde probleem.”
Centurion het Maandag deurgeloop na hewige reënval die vorige aand. Die water in die Hennopsrivier het met geweldige krag deur die stad gespoel en in sommige gedeeltes oor die 50-jaar vloedlyn gestroom.
Inwoners van Fairwaylaan in Clubview was vreesbevange omdat hulle geen hulpbronne, soos sandsakke, ontvang het om te verhoed dat die rivierwater verder in hul huise stroom nie, het Strijdom gesê.
.
Die rivier het die dag sy oewers gebreek en talle inwoners se agterplase kuithoogte onder water gelaat. Die water het omstreeks 11:00 begin opstoot en teen 13:00 was byna alles langs die rivieroewer onder water.
Hilda de Villiers en haar man Div se hele agterplaas was kuithoogte onder die water. “Ek was besorg oor die swembad wat oorgeloop het en ons visdammetjie se inwoners swem nou in die rivier rond,” het Hilda gesê. “Dit was beslis ’n fratsvloed,” het Div gesê.
Div, ’n siviele ingenieur betrokke by konstruksie, het gesê hy was al by verskeie ontwikkelinge in Centurion betrokke en daarom het hy ’n goeie kennis van Centurion se infrastruktuur.
Hy is van mening dat die swak toestand van die meer bygedra het tot die oorstroming. “Vroeër het die meer gedien as ’n buffer om die water op te dam, maar nou verhoed die modder dat water deur die grond kan sypel en dit veroorsaak dat massa water deur die rivier spoel. Die inwoners is bekommerd omdat nog reënval hul situasie kan vererger en hulle niks daaraan kan doen nie,” het Strijdom gesê.
Marnell Dickson het Rekord meegedeel dat die inwoners in Fairwaylaan “’n dringende beroep op die raadslid gedoen om sandsakke vir hulle te kry.”
Volgens die Suid-Afrikaanse weerburo het Irene ongeveer 117mm reën die afgelope vier dae gekry. “Goeie reënval kan Donderdag verwag word, maar daar is in die stadium geen aanduiding daarvan dat Centurion weer ’n vloed gaan beleef nie,” het weervoorspeller Jan Vermeulen aan Rekord gesê.
Nellmapiusrylaan is Maandagoggend gesluit nadat ’n ligte vragmotor in die middel van die laagwaterbrug vasgeval het.
Centurion Lake Hotel, wat langs die Centurion-meer geleë is, se onderdakparkering was ook oorstroom.
Die gholfbane by Zwartkop- en Irene gholfklub is ook deur die oorstromings geaffekteer.
Rooihuiskraalweg was erg oorstroom met water wat byna tot by motors se ruite gestyg het.
Tshwane Nooddienste se woordvoerder Johan Pieterse het bevestig dat sewe reddingspogings Maandag in Centurion uitgevoer is.
“Twee voertuie en vier mense is die oggend by die laagwaterbrug in Blackwoodweg gered en later die middag is drie mense uit die Jukskeirivier gered.”
Metropolisie woordvoerder Basil Nkhwashu het gesê Lytteltonweg, Fairwaylaan, Lenchenweg, Hippostraat en Endstraat was gesluit.
Verkeersligte in Christina de Wet en Eeufeesweg was buite werking.
Die Tshwane rampbestuur was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
