Oorlog teen gevaarlike spruite
Hoë risiko spruite word glo ’n groeiende probleem in die Moot-omgewing en dus het die inwoners en raadslede oorlog teen die spruite verklaar.
Die spruite in die Moot-omgewing is tans besig om ’n groeiende probleem te word en dus het die inwoners besluit om aksie te neem.
Raadslid Adriana Randall het ’n petisie saamgestel en onder die inwoners versprei om soveel moontlike stemme te kry.
Sy beplan om dit teen die einde van Februarie aan die Tshwane-metro te oorhandig vir hul onmiddellike insette.
“Ons moet druk op die metro plaas rakende die spruite omdat dit by die dag versleg. Die spruite is nou selfs as hoë-risiko areas gestempel,” het ’n bekommerde Randall gesê.
Sy het gesê die petisie versoek dat die metro hande met die polisie asook die buurtwagte moet vat om probleem areas te identifiseer en skoon te hou.
“Ons versoek om spreiligte by die spruite op te rig, gereelde opruimings van die spruite en sluipslapers moet gehelp word om alternatiewe heenkome te vind,” het sy gesê.
Volgens Randall is gevaarlike spruite ’n nasionale probleem en alhoewel sy empatie met die metro het rakende die groot taak, kan sy nie bystaan terwyl haar wyk se probleme nie aangespreek word nie.
Tania du Preez, woordvoerder van Villieria-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê dat verdagtes soms van die spruite gebruik maak as ’n wegkruip-area of ’n deurgangsroete.
“Ons ontdek gereeld gesteelde goedere en dit word ook as toiletfasiliteite gebruik. Ons het dus besluit om die groeiende probleem aan te spreek, maar het die inwoners se handtekeninge vir die petisie nodig om ’n sterk stem te hê.”
Inwoners wat belangstel om by die spruite-petisie betrokke te raak kan ‘n epos aan Randall stuur by AdrianaR@tshwane.gov.za.
