Kragprobleme na substasie brand
Areas insluitend Montana, Doornpoort en Kameeldrift sal ongeveer tot Vrydag kragprobleme ondervind nadat 'n kragstasie Woensdagmiddag gebrand het.

Verskeie areas in die noorde van Pretoria sal vandag en dalk Vrydag ook nog kragprobleme ondervind nadat ‘n susbstasie Woensdagmiddag brandskade opgedoen het.
Die Pumulani-substasie in Kameeldrift het omstreeks 16:20 aan die brand geslaan. Erge skade is aangerig wat die volgende gebiede beïnvloed: Montana, Montanapark, Montana Tuin, gedeeltes van Doornpoort, Derdepoort en Kameeldrift.
Volgens raadslid Arnold van Niekerk is die stadsraad besig om die kragstasie te herstel. Hy het bevestig dat kragonderbrekings eers Donderdagmiddag of self eers Vrydag ten volle herstel sal wees.
Johan Pieterse, Tshwane nooddienste se woordvoerder, het gesê die brand by die substasie is binne 30 minute geblus. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en dit word nog ondersoek.
