Slaggate in die noorde ‘n kopseer
Die erge reënbuie wat vanaf die naweek regoor Gauteng neerstort, spoel die paaie in die noorde van Pretoria amper weg en los groot slaggate agterna.

Weens die hewige reën die afgelope week het verskeie paaie in die noorde van Pretoria weggespoel, terwyl ander nou spog met groot slaggate op die ryvlak.
Sommige paaie in Montana en Klerksoord se slaggate is tot 1m breed en 400 cm diep.
“Wanneer dit reën en die slaggate vol water is, soos die een in Breedtstraat in Montana, kan ‘n mens nie skat hoe diep die gat is nie. Dit kan erge skade aan motors aanrig en selfs ongelukke veroorsaak,” het van raadslid Arnold van Niekerk gemaan. “As mense dan uitswaai kan dit ook botsing tot gevolg hê.”
Van Niekerk het gesê hy het die gat in Breedtstraat by die munisipaliteit aangemeld.
‘n Inwoner Nel Willemse het gesê die strate in Klerksoord is ook in ‘n haglike toestand. Hy beweer die paaie, wat Robyn -en Diamantstrate insluit, word nie deur die munisipaliteit onderhou nie.
“Die slaggate word net elke keer met grond gevul en dan moet ons daarmee tevrede wees,” het hy gesê. “Dit is ook ‘n groot kopseer vir omliggende sakeonderneming omdat hulle gereeld hul voertuie se bande moet herstel.”
Tshwane Metro het teen druktyd nog geen kommentaar gelewer oor wanneer die slaggate herstel sal word nie.
