Hoofseun se gesin treur oor sy skielike dood
Pretoria-Noord Hoërskool se onderhoofseun word onthou deur vriende en familie.
Die gesin van die onderhoofseun van Hoërskool Pretoria-Noord wat Vrydagmiddag verongeluk het, rou die ontydige dood van ’n ‘seun wat soveel gehad het om voor te leef’.
Rudi Lettau se pa, Klaus, het op die toneel op die Brits-pad in Pretoria-Noord afgekom, Vrydagaand nadat sy seun opslag dood is toe ’n metropolisiebeampte hom vermoedelik op sy fiets doodgery het.
Klaus het gesê sy seun, wat ’n kranige fietsryer was, het die middag soos oudergewoonte gaan fietsry. Hy het gesê hy was bekommerd toe dit donker word en sy seun nog nie tuis is nie.
Toe Klaus gery het om sy seun te soek het hy op die toneel afgekom en iemand uitgevra oor wat gebeur het.
’n Persoon op die toneel het vir hom vertel dat dit ’n ongeluk was waarin ’n fietsryer betrokke was. Hy het aangedring om meer inligting by die polisie te kry. Hulle het vir hom gevra of hy sy seun se klere kan uitken waarna hy Rudi se ryskoene en huissleutels herken het.
“Die toneel het my ongelooflik onstel. Ek en my vrou het die eerste aand niks geslaap nie,” het Klaus gesê.
’n Emosionele Klaus het aan Rekord vertel hoe trots hy en sy vrou, Monica, op hul enigste seun is.
“Hy was ’n ongelooflike toegewyde seun wat ’n goeie balans tussen sy akademie, liefde vir fietsry en vriende gehandhaaf het.”
Klaus het gesê dat hy sy seun sal onthou as ’n kind van God en dat hy altyd groot gedroom het.
Hy het gesê Rudi het hard gewerk om eendag ingeneurswese te studeer.
“Die hartseerste is dat ek en my vrou ook soveel drome vir ons enigste seun gehad het,” het Klaus gesê terwyl hy trane afvee.
Neels Driescher, skoolhoof by Hoërskool Pretoria-Noord het gesê die skool is geskud deur die verlies van hul onderhoofseun.
Hy het ook gesê Rudi was ’n buitengewoon begaafde kind.
“Rudi was ons skool se top akademiese presteerder in graad 12 en dit was sy doelwit om agt onderskeidings in die graad 12-eindeksamen te behaal. Rudi was baie geliefd onder sy maats en personeel van die skool en ons gaan hom baie mis. Hierdie is nie net ’n verlies vir die skool nie, maar ook vir die gemeenskap en nog wyer, want hy is ’n kind wat nog ’n groot impak sou maak.”
Die Pretoria-Noord-polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.
Rudi se begrafnis vind hierdie Vrydag 10:00 by die Doxa Akasia in Heatherdale plaas.