Oud-Bokkaptein druk nou in die bergfiets-skrum
Die oud-Bokkaptein Wynand Claassen sal volgende week wys hy is op 63 nog topfiks as hy aan 'n tweedaagse bergfietsren in KwaZulu-Natal deelneem.
Sy grootste droom toe hy ’n seuntjie was, was om in ‘n Springboktrui op die rugbyveld te draf, maar deesdae trap die geliefde oud-Bokkaptein Wynand Claassen sy bergfiets dat die ketting sing. Sy nuutste droom is om voor die einde van die maand sy eerste Duzi2C, ’n tweedaagse bergfietsren in KwaZulu-Natal, te voltooi.
Van die manne saam met wie Wynand oefen, noem hom tereg ‘die ratel’. Hy het buiten sy jare as provinsiale en Springbokrugbyspeler ook 11 Comrades-marathons en drie Duzi-kanomarathons voltooi.
Met dieselfde passie waarmee hy sy drome nagejaag het, pak Wynand nou op 63-jarige ouderdom volgende week die 140km Duzi2C tussen Pietermartizburg en Durban saam met ’n spanmaat aan.
Wynand het tot onlangs gereeld 10km-wedlope gehardloop, maar in November voorverlede jaar spiere in beide sy kuite beseer. Na vele fisioterapiesessies was hy gefrustreerd met die vordering en het hy sy seun, Antonie, se ou en lendelam bergfiets uit die stoor gaan haal en begin ry. Hoewel hy bang was om in verkeer te ry, het die opwinding van die berg- en veldpaadjies rondom die stad hom dadelik geboei.
Hy het verlede jaar sy eerste bergfietsren aangepak. So 3km voor die eindpunt het hy ‘n papwiel gekry en besluit om die roete maar stoot-stoot klaar te draf. Hy lag lekker oor hoe hy 10km later oor die eindstreep gehardloop het en besef het die roete was langer as wat hy gedink het.
Toe Wynand besluit het om te begin bergfiets ry, het hy aanvanklik sommer met sy ou tekkies getrap, ’n valhelm geleen en kon nie eers sy eie papwiele regmaak nie. Hy het sy nerwe ’n paar keer afgeval en moes al steke in sy lies kry.
”Ek is ’n beginner, maar ek leer elke keer ’n bietjie meer,” sê hy. Dis by sy pa, George Claassen, wat op 60-jarige ouderdom nog sy laaste Comrades-marathon voltooi het, by wie hy geleer het wat dit is om vas te byt. ”Ek het altyd harder as my pelle geoefen toe ek rugby gespeel het. Selfs na ’n aand se ‘paartie’ het ek die volgende oggend gaan oefen. Nou drink ek steeds my wyntjie en ry die volgende oggend hard fiets,” sê hy.
Wynand moes verlede maand afskeid van sy pa neem met wie hy ‘n baie spesiale verhouding gehad het. ”Ek gaan die ‘race’ vir hom ry”, sê Wynand. “Hy was die aansporing vir soveel wat ek in my lewe bereik het.”
Intussen het hy by die Jakaranda-fietsryklub betrokke geraak en is gevra om hand by te sit om bergfietsdeelname onder die lede te bevorder. Hy ry naweke op veld- en bergfietspaadjies by die Groenkloof-natuurreservaat of in die bewaargebied noord van Sefako Makgato-rylaan.
”My seun het my gevra: ‘Pa, is jy reg vir die ‘race’?’ Ek weet nie wat om te verwag nie, maar ek is baie mededingend en as die kans daar is en ek kan, gaan ek jaag.”
